MunicipalNews

‘Iemand gaan nog hul lewe op die pad verloor’

'Iemand gaan nog seerkry'

Verskeie inwoners van Rikasrus is bekommerd oor die toestand van ‘n hoofpad.

Die Herald het op Maandag, 25 November ‘n paar inwoners se menings gaan vra oor die toestand van die pad. Dit blyk dat dit die afgelope vier jaar drasties agteruit gegaan het.

Hannelie en Jacoba Erasmus by die vernielde pad.

“Die pad is so sleg weens al die slaggate dat ek met my voertuig langs die pad moet ry. Die munisipaliteit doen niks omtrent die situasie nie en sodra die gemeenskap die slaggate self wil regmaak word hulle gestop. Ek moes al my voertuig se sierwiele (mags) vervang omrede hulle deur al die slaggate beskadig is,” het Hannelie Erasmus ontsteld vertel.

“As dit reën kan ‘n mens basies nêrens heen ry nie want die teerpad is vol slaggate en die strook langs die teerpad is vol klippe wat jou voertuig se bande sny. Bakkies, trokke en busse ry met gemak op die pad maar ons met normale voertuie kan nie want die slaggate is te diep. Die trokke en busse ry die slaggate nog verder uit sodra dit gereën het. Indien twee voertuie in die teenoorgestelde rigting by mekaar wil verby ry, moet die een voertuig eers stop sodat die ander een kan verbyry omdat daar oral gate in die pad is,” het Jacoba Erasmus vertel.

Die groot slaggate wat inwoners warm onder die kraag het.

“Ek vra dat die mense wat die pad gaan regmaak asseblief spoedhobbels in die pad lê sodat die trokke, motorfietse en karre nie meer so op die pad kan jaag en dit verder beskadig nie. Iemand gaan vir seker nog hul lewe verloor omdat die bestuurders so onverskillig ry,” het Joe van der Merwe voorgestel.

“Die pad lyk baie sleg en het my al baie bande en skokbrekers gekos,” het Rodger Bosch vertel.

“Die pad is baie gevaarlik en in so ‘n slegte toestand dat niemand meer daarop kan ry nie. Selfs die bakkies moet om die gate probeer ry. Die lorries jaag oor die pad sonder om te sukkel en beskadig die pad verder, want hulle mag nie eintlik op die hoofpad ry nie,” het Magda Bruyns gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button