Mandela Dag: Gemeenskap snoei bome vir veiligheid
Op Mandela Dag het die gemeenskap bymekaar gekom om van die bome te snoei wat 'n bedreiging inhou vir die elektriese netwerk in die Bootha-, Loumarina- en Elandsvlei-gebied.
Op 18 Julie het Randfontein se gemeenskap in ware Madiba-styl saamgekom om die area veiliger vir almal te maak.
Volgens Alwyn van Tonder, DA-raadslid vir Wyk 3, het daar ongeveer 30 gemeenskapslede kom help om dié aksie ‘n sukses te maak.
“Die gemeenskap het ongeag van affiliasie saamgestaan om die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit se elektriese afdeling te help om van die bome te snoei wat ‘n bedreiging inhou vir die elektriese netwerk in die Bootha-, Loumarina- en Elandsvlei-gebied.”

Die vroue het die bome geïdentifiseer wat probleme kan meebring en het aan almal koeldrank verskaf. Die manne het die takke afgesaag en weggesleep.
“Ek wil geen groep uitsonder nie, want dit was ‘n gemeenskapsprojek waarby ek, EPR Sekuriteit, die AfriForum Gemeenskapspolisiëringforum, die munisipaliteit se elektriese afdeling asook die groter gemeenskap betrokke was. Elkeen se bydrae word waardeer.

“Projekte soos hierdie waar die gemeenskap saamstaan om ‘n verskil te maak, help werklik om probleme in hul area op te los. Ek wil baie dankie sê aan elkeen wat vandag kom help het om hierdie aksie suksesvol te voltooi. Daar sal reëlings getref word om dieselfde ook in ander areas te doen,” het Alwyn bygevoeg.




