Passie vir mooi klere word ‘n besigheid
Carike Hoffmann se passie vir mooi klere het tot 'n besigheid ontwikkel.
It’s Sew Carries is gebore uit Randfonteiner Carike Hoffman se passie vir mooi klere op ‘n knap begroting.
Die voormalige onderwyser het nog altyd van mooi klere gehou, maar het gewoonlik nie veel in haar bankrekening oorgehad nadat sy haar drie kinders en haar huishouding versorg het nie. Dít was die rede vir haar besluit om twee jaar terug haar eie klere te begin maak, en vandag sorg sy dat Randfontein se vroue in die mooiste uitrustings geklee is.
“My ma was ‘n huishoudkunde-onderwyser en sy het my al my vaardighede geleer, maar ek het nooit regtig belang gestel in naaldwerk nie. Toe ek eers begin het, het ek besef hoe baie ek daarvan hou en hoe maklik dit is om iets te maak wat baie mooi lyk.
My vriendinne het my klere vreeslik gekomplimenteer en toe het ek stadig aan begin om my rokkies te verkoop en so het my my besigheid ontstaan.”
Sy het intussen vir Mpho Majwede aangestel om haar te help en saam maak hulle tot agt kledingstukke ‘n dag. Sy hou van kleur en van blompatrone, en maak meeste van haar klere op bestelling.
“Daar is iets wat mooi lyk aan elke lyf, of jy nou kort of lank is. Dis baie bevredigend as mense vir my foto’s stuur waar hulle my klere aan het. Ek het ‘n pop-up winkel by Elite Make-Up in Greenhills en het ook onlangs een in Noordheuwel oopgemaak. Daar was versoeke om winkels oop te maak in Boksburg, Brakpan en George, dus gaan ons uitbrei,” het sy opgewonde vertel.

Carike is deur en deur ‘n kreatiewe siel en buiten al die mooi en kleurvolle klere op haar rakke en in haar kas, is sy nie bang om haar huis se mure donkerblou of rooi of geel te verf nie. Sy is baie lief vir reis en om deur die winkels te stap saam met haar ma en dogter.
Sy is ‘n mense-mens en is baie lief daarvoor om saam met familie en vriende te kuier. Konsultasies met klante word gereeld sommer in ‘n kuier met koffie of gin, en voor sy haar oë uitvee is daar al ‘n paar uur verby.
“Ek en my man hou baie van kosmaak, veral met wildsvleis, en ek skryf graag stories. My Facebook-vriende weet almal dat as iets in ons familie gebeur, daar ‘n komieklike storie binnekort op my profiel gaan verskyn.”
Volgens Carike is geen uitdaging vir haar te groot nie, want haar man ondersteun haar in alles wat sy doen en haar geloof is baie sterk.
Ons stap maar die pad van die lewe met God aan ons kant.”




