Jong danser het ‘n groot hart vir diere
'Sy het gewen en 'n gedeelte van die kontantprys gebruik om die kos en komberse aan te koop'.
‘n Sesjarige Randfonteiner het die geld wat sy in ‘n danskompetisie gewen het gebruik om kos en komberse vir die Dierebeskermingsvereniging (DBV) aan te koop.
Luhanne Tosen het op 25 Julie dié skenking aan die DBV se Randfontein-tak oorhandig. Volgens haar ma, Amanda, is dit die tweede keer wat die jong danser so ‘n skenking doen.
“Kleuterzone het onlangs ‘n kleuterdanskompetisie saam met Antonie Bougas gehou en sy het daaraan deelgeneem. Toe sy die top 15 haal, het sy reeds vir my gesê dat sy graag die kontantprys wil wen om die DBV te kan help.
Sy het gewen en ‘n gedeelte van die kontantprys gebruik om die kos en komberse aan te koop,” het Amanda gesê.
Luhanne dans die afgelope twee jaar by Snap Back Studios en het al die een na die ander toekenning ingeryg. Dit was vir haar ma ‘n aangename verrassing toe sy uit haar eie die DBV wou help.
“Sy is ‘n diereliefhebber en is baie lief vir ons troeteldiere. Daarom gee sy ook baie om vir diere wat by die DBV is. Ons is ongelooflik trots op Luhanne se goedhartigheid. Ons sien daarna uit om te ervaar hoe haar talent en haar omgeehart sal groei soos sy ouer word,” het sy bygevoeg.




