Randmark reg vir aksie
Randmark se klublede is opgewonde om uiteindelik weer saam te kan hardloop en fietsry.
Nadat Randmark se fietsryers en hardlopers vir meer as drie maande op hul eie moes oefen, is hulle opgewonde om vir ‘n slag weer die samesyn van die klub te ervaar.
Volgens Charlene Beukman, Randmark se hardloopverteenwoordiger, was dit wonderlike nuus toe hulle hoor dat hulle die gewilde klubaande op 20 Augustus kon hervat.
Ons het baie streng reëls en regulasies in plek sodat ons veilig bymekaar kan kom. Ons hardlopers het maar gedurende die grendeltydperk op hul eie geoefen en aan virtuele wedlope deelgeneem – nou kan ons dit in klein groepies saam begin doen,” het sy gesê.
Volgens Lee Kotze, Randmark se mediaverteenwoordiger, het die meerderheid van hul lede goed op hul eie aangegaan, maar almal het die sosiale aspek van die klub gemis.

“Om die grendeltyd interessant te maak, het ons onsself uitgedaag. Sommige fietsryers het die hardlopers se uitdagings gedoen, en andersom. Ons het mekaar baie op WhatsApp ondersteun.”
Lee het bygevoeg dat hulle sedert Vlak 4 talle mense in die veld en in die strate sien hardloop en fietsry het, en hulle hoop dat dié mense by hul klub gaan aansluit. Jan Kotze, Randmark se ondervoorsitter het gesê dat die klub nou daarna uitsien om aan verskeie virtuele uitdagings en wedlope deel te neem voordat dinge weer na normaal terugkeer.
Die jaar se gebeure het sy tol geëis op die samesyn van die klublede, daarom gaan ons nou daarop fokus. Voordat ons weer aan groot geleenthede deelneem, sal ons ook eers ons fiksheid op standaard moet kry.”



