‘n Geweldige stank weens riool wat glo in ‘n stroom vloei hou ‘n gesondheidsrisiko vir Pelvale-inwoners in.
Volgens Chris Krog, ‘n inwoner van Pelzvale loop riool al vir minstens vyf weke uit ‘n pyp op ‘n plot in Pelzvale. Die gevaar is dat dit in die vlei afvloei en die damme bereik waaruit inwoners se vee moet water drink.

Michael De Souza, ‘n ander inwoner het vertel dat hy verskeie visse soos karp, baber, asook koi in sy dam as gevolg van die probleem verloor het.
“Ek het omtrent 20 gate gegrawe waarin daar seker 60 dooie visse begrawe is. Ek moes ook my boorgatpomp afskakel want ek kan glad nie die water gebruik nie – so erg is dit besmet. Hierdie tyd van die jaar begin ek gewoonlik groente plant maar ek het nie skoon water om hulle nat te maak nie.”

Mandlamahle Mguni, die eienaar van die plot waar die rioolwater uitstroom, het vertel dat hy nie weet wat die oorsprong van die rioolwater is nie. Hy het wel gesê dat die water, wat moontlik met cholerabakterieë besmet kan wees, die area vol is.
“Ons probeer alles om iemand te kry om ons te help, maar intussen word daar baie skade veroorsaak.”

Hy het bygevoeg dat hy sy gewasse met dié vuil water moet besproei.
“Ons weet nie of die gemeenskap besig is om siek te raak van die water nie, ons vra net vir antwoorde want dit is nie veronderstel om te gebeur nie.” “Wanneer die wind waai stik ons in die mynstof en moet boonop nou die stank verduur van menslike ontlasting wat soos ‘n rivier vloei.
Ons diere gaan dood omdat hulle besmette water drink, en ons boorgate loop gevaar van besoedeling. As dit so aanhou drink ons binnekort dieselfde besmette water waarvan ons diere doodgaan,” het dr Peter Skosana van Pelzvale gesê.



