Inwoner soek haar hond: Het jy vir Rodger gesien?
Elna Daubermann wil net gemoedsrus hê.
Elna Daubermann se lewe het op Donderdag, 10 September gaan stilstaan toe haar geliefde hondekind, Rodger, ‘n Rottweiler-kruising verdwyn het.
Elna het vertel dat toe sy Donderdagmiddag teruggekom van die dokter af, was Rodger volgens haar tuinwerker nêrens te sien nie.
“Johannes, die tuinwerker, het gesê dat hy ‘n rooi kar voor die hek gesien het. ‘n Vrou het by die hek gestaan en met Rodger gespeel. Toe hy omdraai het sy glo in die kar geklim en gery, daarom kon hy nie die kar se registrasienommer betyds kry nie. Hy het gesien dat die hekkie oop was en Rodger nie meer in die erf was nie.”
Al wat Elna-hulle gevind het toe hulle vir Rodger gaan soek het was ‘n stukkie van sy halsband wat lyk of dit afgesny is.

Sy het vertel dat sy nie weet of hy weggehardloop het en of gesteel is nie, maar as iemand hom het en hulle wil hom nie teruggee nie dan wil sy net hê hulle moet ten minste sy goedjies by haar kom kry.
My hart is bitter seer en my man sê ek moet ophou huil, maar ek kan nie want wat doen jy as jou kind wegraak?
“Rodger is soos ‘n baba in die huis en al my honde word soos kinders bederf,” het sy met trane in haar oë vertel.
“Ek sal alles betaal om hom terug te kry; al bel jy en sê vir my dat jy hom per ongeluk doodgery het, ek wil net gemoedsrus hê, want jy weet nooit of hy lewe en of hy dood is nie.”
Elna het vertel dat mense dink daar’s fout met haar omdat sy met haar seer bene en al straatop en straataf na haar geliefde Rodger roep. “Vir hulle is dit dalk net ‘n hond, maar nie vir my nie, dit is my kind.

“Ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek is moeg gehuil en ek het al hoeveel tenks petrol uitgery op soek na hom. Dit is net ek en my man in die huis.
Altwee my kinders is oorsee, dus is ons honde regtig soos ons kinders want hulle is al wat ons het. Hulle mag dalk vier bene hê, maar hulle verstaan elke woord wat ek sê.”
Volgens Elna het Rodger ‘n suising in sy hart en moet medikasie daarvoor kry.
“As hy dit nie ontgroei nie, sal hy ‘n operasie moet kry anders sal dit sy dood beteken.”
Elna het vertel dat Rodger ‘n baie liefdevolle en vriendelike hond is en dat hy jou sommer sal omspring en probeer soen wanneer hy jou sien. Jessica Vermeulen, Rodger se eerste eienaar en ‘n vriendin van Elna, het vertel dat Elna vreeslik hartseer is, en dat hul altwee hom graag wil terughê.
As enige iemand vir Rodger gesien het, skakel vir Elna by 074 580 6899.



