Boerdery is in sy bloed
Volgens Jeanette is dit vir hulle baie belangrik om die jonger generasie te leer sodat die boere se kennis en tradisies nie verlore gaan nie.
Daar is vier dinge wat van boere bóére maak – hul geloof, hul boeretroos in die oggend, hul hardwerkendheid en hul trots.
Meer as 34 jaar gelede was Chris Vosloo ‘n jong rekenmeester met ‘n droom om eendag te kan boer vir ‘n lewe, en hy het toe sy boerdery met twee beeste op dié plot begin. Vandag het hy meer as 300 Jerseys op sy plot, en Chinette Jersey Stoet en Melkery lewer die heerlikste kaas en jogurt.
Ek het goeie geld gemaak as rekenmeester, maar as boerdery in jou bloed is, eindig mens altyd met ‘n boerdery op. Dis harde werk om ‘n boer te wees, want mens is elke oggend nog voor die son op is al aan die gang. Daar is ook baie kompetisie, veral onder melkboere, maar ons staan uiteindelik saam en help mekaar wanneer daar ‘n groot probleem is,” het hy gesê.
Hy en sy vrou Jeanette is baie trots op hul boerdery en is besig om hul peetkind op te lei omdat hy self in die melkboerdery belangstel.
Volgens Jeanette is dit vir hulle baie belangrik om die jonger generasie te leer sodat die boere se kennis en tradisies nie verlore gaan nie.
Vir Chris is die boerdery meer as net ‘n beroep – dit is eerder ‘n belangrike aspek van die Afrikaanse Boere-kultuur. Daar is mense van verskillende kulture wat elk in hul eie reg ‘n goeie boer is, maar volgens Chris is daar net iets spesiaal daaraan om deel van die Afrikaanse boerderygemeenskap te wees.

“Ek is baie trots daarop om ‘n boer te wees, want dis lekker. In die oggende drink ek my koppie koffie op die stoep en ek eet beskuit. Ons eet baie lekker en ons hou ook van heerlike potjiekos,” het hy gesê.
Hoewel hy dit geniet om ‘n boer te wees, plaas die titel ongelukkig ‘n teiken op mens se rug. Hul besigheid is op 27 September 2015 deur vyf gewapende rowers aangeval, maar die Vosloos en hul werkers was gelukkig ongeskonde. ‘n Rower is tydens die rooftog deur ‘n sekuriteitswag doodgeskiet, en twee sekuriteitswagte is beseer. Plaasaanvalle en aanvalle op boerderye is ‘n realiteit waarmee elke boer in Suid-Afrika moet saamleef, en Chris en Jeanette is baie dankbaar om na die aanval steeds te kon aangaan met hul boerdery.
Ons geloof het ons tot hier gebring. Mens kan nie sonder die Here boer nie. Ek het al baie boere teëgekom wat nie God in hul boerdery inbring nie en hul boerderye is nooit suksesvol nie. Ons is afhanklik van Hom.”
Hulle gebruik ook hul boerdery om Afrikaanse tradisies te laat voortleef.
“Ons het gewoonlik op 16 Desember ‘n Boeredag hier op die plot. Ons hou van boeresport, volkspele en samesyn, en ons gebruik hierdie belangrike dag uit ons Boere-geskiedenis om ons kultuur ten volle te geniet. Ek vertel die jongklomp ook graag stories uit die geskiedenis en hulle geniet dit vreeslik,” het Chris bygevoeg.



