Local newsNews

Drie uit een huis dood weens Covid-19 verwante komplikasies

'Ons moes die hartseer nuus oor sy vrou se afsterwe met hom deel. Sy hart was stukkend en het self vir die maatskaplike werker bevestig dat Jesus hom maar kan kom haal'.

Dié week dink ons weer aan vriende en geliefdes in ons gemeenskap wat hul lewens as gevolg van Covid-19 verloor het.

Michelle Engelbrecht het vertel van die trauma wat hul familie die afgelope tyd beleef het. “Ons familie is hartseer, geskok en soms voel dit net onwerklik. Binne drie weke het ons nagenoeg 10 familielede, vriende en kollegas verloor – drie uit een huis.

“Baie dankie, Herald, dat ons ‘n laaste eer kan gee aan ons geliefdes. Ons harte is seer en rou.”

• Mabel van Loggerenberg, 52:

Mabel het op 23 Junie positief getoets en het op 27 Junie omstreeks 04:45 haar stryd teen Covid-19 in ‘n staatshospitaal verloor. Ons sal Mabel onthou as ‘n mens wat ‘n plan kon maak en lekker kos-platters tydens familiefunksies kon opdis. Ons gaan jou mis. Met baie liefde van jou seuns Hentie en Gerhard Boshoff, asook familie en vriende.

• Hain van Loggerenberg, 45:

Mabel se man Hain is op 27 Junie in ‘n privaat hospitaal opgeneem met dubbellongontstekking. Hy het ook positief getoets vir Covid-19. Ons moes die hartseernuus oor sy vrou se afsterwe aan hom oordra. Sy hart was stukkend en hy het self vir die maatskaplike werker gesê dat Jesus hom maar kan kom haal. Hy het sy stryd op 4 Julie verloor – amper 24 jaar na sy pa Gerhardus van Loggerenberg op 5 Julie 1997 sy stryd teen kanker verloor het. Hy was so ‘n goeie pa vir sy twee susters, Michelle Engelbrecht en Rozelle de Beer. Sy moeder, Pop Jordaan, het net nooit gedink dat die aand van 22 Junie die laaste keer sou wees dat sy haar seun sien nie. Ons sal Hain onthou as ‘n man wat baie lief was vir mense en visvang, en mens kon altyd op sy knoppie druk. Hy het altyd uit liefde gehelp en raad gegee waar hy kon. Ons gaan jou mis. Met baie liefde van ma Pop, Michelle, Rozelle, en ander familie en vriende.

Hain sal onthou word as ‘n man wat baie lief was vir mense en visvang. Foto ingestuur.

• Ouma Gladys Jansen van Rensburg, 80:

Ouma Gladys wat saam met haar dogter Mabel en Hain gewoon het, is op 9 Julie in ‘n privaat hospitaal opgeneem en het vier dae later, op 13 Julie, haar stryd teen Covid-19 verloor. Sy was ‘n liefdevolle mensie en het altyd die kleinkinders bederf. Sy was ‘n opregte ouma wat net liefde wou gee. Sy was lief vir haar soapies en Huisgenoot lees. Ons gaan ma/ ouma mis. Met baie liefde van haar kinders Tienie, Leon, Belinda, kleinkinders, en ander familie en vriende.

Ouma Gladys. Foto ingestuur.

Die Herald nooi die gemeenskap om ‘n kop-en-skouersfoto in te stuur van ‘n geliefde wat hulle weens Covid-19 aan die dood afgestaan het, met ‘n kort huldeblyk aan die persoon daarby. Stuur die inligting na randfonteinherald@caxton.co.za. Ons sal dit op ons gedenkbladsy plaas.

Laat ons hulle nooit vergeet nie.

Lees ook:

Man sterf drie maande na sy troue weens Covid-19

Sakeman, Teine-direkteur sterf weens Covid-19

Covid-19 claims the life of another resident, business owner

Covid-19 eis tannie Phyllis kort na haar 100e verjaarsdag

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button