Liefdevolle Melandie sterf na kort siekbed
Melandie Dippenaar, 'n voormalige werknemer van die polisie, is na 'n kort siekbed oorlede.
Daar is nie woorde om die hartseer te beskryf wanneer jy van jou geliefde moet afskeid neem nie.
Die 45-jarige Melandie Dippenaar van Greenhills is na ‘n kort siekbed op Maandag, 19 Julie oorlede.
Haar eggenoot, Heinrich Dippenaar het vertel dat hy sy vrou sal onthou as ‘n liefdevolle, sagmoedige mens wat altyd gelag het.
“Sy het altyd uit haar pad gegaan om seker te maak dat almal gelukkig en tevrede is.”
Melandie het sy ma en tannie weekliks versorg, en na hulle omgesien.
“Sy was altyd nederig, lojaal en glad nie selfsugtig nie,” het Heinrich gesê.
Melandie het 19 jaar vir die polisie gewerk. Sy was van 1994 tot 2012 by die Johannesburg Sentraal Polisiestasie, en het daarna vir ses jaar by die Hekpoort Polisiestasie gewerk.

“Jy kon enige tyd met haar praat en haar raad vra. Sy het altyd geluister en belanggestel in wat jy sê; sy het ‘n persoon altyd gemaklik laat voel. Melandie se gesin en familie was haar lewe, en sy was lief daarvoor om dinge vir ander te doen en hulle gelukkig te maak.”
Een herinnering wat hy in sy hart sal koester is haar woorde “Moenie stres nie”, en “Love you lots”.
“Een van haar grootste drome was dat ek en my seun, en almal vir wie sy lief was, gelukkig is.”
Volgens Heinrich sou hulle op haar verjaarsdag op 18 November op ‘n bootreis gaan. Dit sou haar eerste keer wees.
“Dit was een van die dinge waarna sy uitgesien het.”
Melandie word oorleef deur haar eggenoot Heinrich Dippenaar, en hul seun, Ryno.



