Covid-19 eis nog ‘n bekende in die dorp
’n Voormalige verkeershoof en bekende in Randfontein, Fanie Roux Snr is onlangs weens Covid-19 komplikasies oorlede.
‘n Welbekende in die dorp, Fanie Roux Snr is onlangs weens Covid-19 komplikasies oorlede.
Volgens familie het hy op Woensdag, 14 Julie gesterf as gevolg van ‘n bloedklont deur sy hart. Hy was 69. Sy seun, Fanie Jnr het vertel dat sy pa vir die afgelope 13 jaar in Randpoort gewoon het.
Fanie Snr was vir 35 jaar lank ‘n verkeersbeampte, en toe Mohlakeng hul eie munisipaliteit gehad het, was hy die Verkeershoof daar vir vier jaar. Sy pa het na sy aftrede voertuiglisensiehernuwings en -registrasies namens mense gedoen.
Hy het sy pa beskryf as ‘n stil en baie geduldige mens, ‘n persoon wat trots is op sy werk en wat baie godsdienstig was.
Sedert ek kon onthou was hy ‘n ouderling in die kerk, en het daar gedien tot die dag van sy dood. Liefdadigheid het hom na aan die hart gelê en hy was jare lank lid van die Memorable Order of Tin Hats (M.O.T.H), ‘n organisasie vir oudsoldate en oorlogveterane.”
Volgens Fanie het sy pa ook die eerste Afrikaanse Shellhole in die land names Caprivi Bomgat in Randfontein gestig.
“My pa was altyd bereid om almal te help, by sy kleinkinders te wees of te gaan kamp, die karavaan te haak of vir weke lank aan die Weskus of in Oos-Transvaal te toer.”

Fanie Snr het hoede en braais versamel. “Hy was baie lief vir braai en het meer braais gehad as wat een persoon in sy lewe sou kon opgebruik.”
Herinneringe aan sy pa wat Fanie altyd na aan die hart sal lê is dat hy altyd daar was vir sy gesin en familie, sy potjiekos en hoe goed hy in sy uniform gelyk het.
Een van sy grootste drome was om na sy aftrede deur die land en Namibië saam met sy vrou te toer.
Fanie Snr word oorleef deur sy vrou Ria, sy dogter Celia, sy seun Fanie Roux Jnr, sy skoondogter Nelia en drie kleinkinders.



