Geliefde Oom Basie se lewe kortgeknip weens Covid-19
'Hy het altyd vir ander omgegee en sou al sy pensioengeld by die robot en stop-straat uitdeel' – dogter.
Wanneer ‘n geliefde nie meer hier is nie, is dit die seerste seer, maar om te weet dat jy vrolike herinneringe het om aan vas te klou is baie kosbaar.
Basie Neethling, 79, is volgens sy dogter, Jackie van Wyk op Sondag, 27 Junie oorlede na vier hartaanvalle as gevolg van Covid-19.
“My man en ma het Covid gehad, en toe my pa. Ons het hom by die huis behandel maar toe sy suurstofvlakke tot 55 gedaal het, het ek hom hospitaal toe geneem. Ek moes hom daar los met sy tas klere, en ek kon hom net bel en nie besoek nie. Hy is oorgeskuif intensiewesorg-eenheid toe waar hy op suurstof geplaas is, en ek kon hom vir 15 minute op eie risiko besoek.”
Die hospitaal het vir haar op Sondag, 27 Junie om 07:30 laat weet dat haar pa op ‘n ventilator geplaas is omdat hy nie meer self kon asemhaal nie, en dat sy hom nie meer kon besoek nie.

“Toe ek die hospitaal om 20:00 bel, het hulle gesê dat hy vier hartaanvalle gehad het en dat sy toestand kritiek was. Ek is nie toegelaat om hom te sien nie. Teen omstreeks 21:20 het die hospitaal gebel om te laat weet dat hy oorlede is.”

Sy het vertel dat haar pa al die jare by Cook 1-myn gewerk het.
Jackie sal haar pa onthou as ‘n persoon wat lief was vir kosmaak, en hoe lief hy haar ma gehad het.
In 2015 het die Herald berig oor Hendriette en Basie wat mekaar al 53 jaar lank ken en 50 jaar getroud is. Lees meer hier [https://www.citizen.co.za/randfontein-herald/191798/ware-liefde/]
“Hy het haar op die hande gedra en elke dag kos gemaak. Al was hy hoe siek was hy altyd bekommerd of my ma oukei is.”
Sy het vertel dat haar pa die lekkerste Peppermint Crisp-tert kon maak, en dat hulle die laaste een amper met ‘n strooitjie kon drink. Basie het altyd omgegee vir ander en hy sou volgens Jackie al sy pensioengeld by die verkeerslig en stopstraat uitdeel.

“Hy kon darem twee van sy vyf kleinkinders sien trou tydens klein seremonies as gevolg van Covid-19.”
Een herinnering aan haar pa wat Jackie altyd in haar hart sal koester is sy liefde vir haar ma en die Here. Basie se droom was om die dorp Paternoster te sien.
Hy word oorleef deur sy vrou Hendriette Neethling, sy dogter Jackie van Wyk, sy skoonseun Antonie van Wyk, sy seun Maruis Neethling, sy skoondogter Christa Neethling en vyf kleinkinders.



