Om ons gemeenskap toe te laat om ‘n ingeligte besluit te neem wanneer hulle op 1 November gaan stem nooi die Herald alle kandidate van enige party uit om hulself bekend te stel.
Fred Steffers van die Vryheidsfront Plus
Fred is 63-jaar oud en is ‘n kandidaat vir Wyk 7 wat Culemborgpark, Helikonpark, Eikepark en ‘n gedeelte van Homelake insluit.
Wat sal jy anders doen as jou voorganger?
Sigbaarheid is die wagwoord van ‘n dienende raadslid en daarom is wykvergaderings belangrik waar die publiek uitgenooi word om deel te neem aan die openbare deelname-prosesse. Tydens hierdie geleenthede word onder meer die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) bespreek wat help om dienslewering te versnel. Die GOP is gegrond op die behoeftes en prioriteite wat die gemeenskap self identifiseer. Terugvoering oor raadsake, die behandeling van probleme en gesonde kommunikasie is uiters belangrik.
Indien jy verkies word op watter aangeleenthede sal jy fokus in jou wyk en hoekom?
Die Vryheidsfront Plus se verantwoordelikheid en betrokkenheid strek verder en is nie net beperk tot een wyk nie. ‘n Raadslid is ‘n verkose verteenwoordiger van die inwoners en het ‘n mandaat van die kiesers ontvang om besluite namens die kiesers te neem. Hierdie besluit moet gegrond word op die missie, beleid en waardes van die party waarvoor die kieser oorspronklik gestem het.
Hoekom moet die gemeenskap vir jou stem?
• Ek sal my beywer vir gehalte-dienslewering en effektiewe regering deur aan te dring op veelparty-verteenwoordiging op tenderkomitees.
• Aanstellings moet slegs gedoen word op grond van kundigheid en ondervinding ongeag velkleur.
• ‘n Gedeelte van die belastinginkomste moet teruggeploeg word in die gebied waaruit dit ontvang is.
• ‘n Eenvormige belastingstelsel en dienstetariewe is vir my noodsaaklik.
Behalwe vir jou verpligtinge as raadslid op welke ander maniere is jy betrokke in jou gemeenskap?
Ek woon al sedert 1997 in Randfontein, ek het besighede hier gevestig en sowat 40 werksgeleenthede geskep. Ek was ook betrokke by verskeie sakekamers, Randfontein se Publisiteitsvereniging, die rugbyklub en ons plaaslike kerkgemeenskap.
Watter ondervinding het jy wat jou uniek geskik maak vir die rol as raadslid?
Ek het ses jaar vir stadsrade gewerk en het finansiële en elektrisiteitverspreidingervaring wat goed te pas sal kom met die huidige ineenstorting van veral kragnetwerke in die munisipaliteit.



