MunicipalNews

VF+ kandidate: Ontmoet vir Marlene

Met die verkiesing om die draai wil die Herald graag die potensiële raadslede aan die gemeenskap bekend stel.

Om ons gemeenskap toe te laat om ‘n ingeligte besluit te neem wanneer hulle op 1 November gaan stem nooi die Herald alle kandidate van enige party uit om hulself bekend te stel.

• Marlene Pienaar van die Vryheidsfront Plus

Marlene is 57-jaar oud en is ‘n kandidaat vir Wyk 3 wat gedeeltes van Randpoort insluit.

1. Indien jy gekies word, op wat sal jy fokus in jou wyk en hoekom?

Die Randwes Munisipaliteit is een van die swakste munisipaliteite in Gauteng. Inwoners gaan gebuk onder geweldige diensleweringsprobleme en ontoereikende infrastruktuur. Swak paaie, onverwerkte riool wat in paaie afstroom, krag- en wateronderbrekings en ‘n gebrek aan vullisverwydering is aan die orde van die dag.

Korrupsie en ongerymdhede in die munisipaliteit moet met wortel en tak uitgeroei word. Dit is die eerste stap om die munisipaliteit finansieel om te keer en ‘n skoon administrasiebeleid te volg. Dienslewering is uiters belangrik omdat inwoners duur daarvoor betaal.

2. Hoekom moet die gemeenskap vir jou stem?

Die VF Plus se beleid is dat raadslede hul pligte op ‘n deursigtige en aanspreeklike wyse moet uitvoer en daarom is raadslede daartoe verbind om die prestasie van munisipaliteite te monitor en toe te sien dat amptenare bekwaam genoeg is om die werk te doen. Indien nie, sal hulle verantwoordbaar gehou word vir enige ongerymdhede in die munisipaliteit.

Die party is daagliks besig om munisipaliteite wat in korrupsie en swak bestuur verval het tot verantwoording te roep. Die inwoners van Randwes Munisipaliteit kan nie langer blootgestel word aan wanadministrasie nie en daarom het inwoners in die komende plaaslike regeringsverkiesing die geleentheid om saam met die VF Plus op te staan om te verseker dat bekwame verteenwoordigers wat belastingbetalers se belange op die hart dra, beheer neem oor die munisipaliteit.

3. Behalwe vir jou verpligtinge as raadslid hoe het jy op ander maniere in die gemeenskap betrokke geraak?

As jarelange aktivis vir die party is ek reeds ‘n geruime tyd besig met opheffingswerk in Venterspos waar baie inwoners van staatshulp en plaaslike sopkombuise afhanklik is.

4. Watter ondervinding het jy wat jou uniek geskik maak vir die rol as raadslid?

Ek is tans hoof van menslike hulpbronne by ‘n bekende maatskappy en sal my daarop toespits om op finansiële aspekte van die munisipaliteit te fokus en om dienooreenkomstig terugvoering aan die kiesers te gee. Uit die aard van my werk is die welstand van mense vir my belangrik, en tesame met my finansiële agtergrond kan ek ‘n verskil in Westonaria en Randfontein maak om die twee dorpe uit algehele verval te red.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button