Local newsNews

OPINIE: Ek kies eerder die bos, braai en bobbejane

Dit sal beslis nou moeiliker as ooit wees om my te oortuig dat die see meer kan bied as die bos met sy wilde diere en stilte.

• Die redakteur skryf:

Dit was onlangs weer sulke tyd … tyd om ‘n bietjie weg te breek. Waar anders as in die bos?

Party mense hou van die see – die lekker seewater en branders wat breek, skulpies oral, die sand tussen jou tone. Ander, soos ek, verkies die bos – die braai, biltong, bobbejane en yskoue bier. Boonop is dit doodstil.

Soos altyd is ek dankbaar en bevoorreg om weer onlangs die Pilanesberg vir vier dae saam met my familie te besoek en elke keer as ek gaan raak ek net meer opgewonde. Wat gaan ek dié keer sien? Dalk ‘n buffel en ‘n leeu wat mekaar in die hare vlieg, ‘n pasgebore hiëna of dalk ‘n swerm aasvoëls wat oor ‘n karkas sirkel?

‘n Leeumannetjie op soek na sy trop.

Die Groot Vyf is natuurlik altyd ‘n wenner maar ek kon dié keer slegs ‘n regmerkie langs die olifant, renoster en leeu maak. Ek kan nie onthou dat ons dit al ooit gelukkiger getref het met die olifante en leeus nie. ‘n Olifantkoei het ons voertuig bestorm want haar kalfie was naby. Sy het glad nie van ons teenwoordigheid gehou nie. Gelukkig het ‘n gids langs my aan die voertuigdeur geklap en sy het die aftog geblaas. Sjoe! Op ons tweede laaste dag het ‘n trop van nagenoeg 50 olifante rustig na ons toe aangeloop gekom – koeie, bulle en kalfies. Wat meer kan ‘n mens vra?!

Daarby het ons vroeg-vroeg ‘n mannetjiesleeu in een van die hoofpaaie van die Natuurreservaat gesien loop. Ons het hom gevolg en raai wat … hy was op pad na die res van die trop toe. Boerpot! Daar was nog mannetjies en wyfies net waar jy kyk wat boonop rondgespring en gespeel het tot almal se vermaak. Dis net jammer dat ons nie ‘n welpie kon sien nie. Hulle word streng beskerm en met al die voertuie daar is dit ook moeiliker om hulle te soek. Nietemin, dit het my naweek gemaak!

‘n Rooijakkals.

Tog was daar baie ander diere wat ek nog nooit tevore met my eie oë gesien het nie, soos ‘n Kaapse bobbejaan, ‘n rooijakkals, ‘n visvanger wat ‘n skerpioen eet, wat nog te sê van die muishonde en blouape wat mekaar rondjaag en terg!

Die Kaapse bobbejaan is vir seker ‘n vreemde dier. Ek weet want ek was naby genoeg om hulle goed af te neem en te bekyk. Daar was hordes van hulle om die kar en hul gedrag is nogal iets om te beleef. Hulle het basies geen skaamte nie. Kom ons sê maar net dis iets wat nie op TV moet verskyn nie. Hulle is ook nie die mooiste dier op aarde nie. Volgens Essential Illustrated Wildlife Guide To Southern Africa, ‘n boek wat ek altyd saamneem op ‘safari’ is daar tussen 15 tot 100 Kaapse bobbejane in ‘n trop, met verskeie groot mannetjies in beheer.

Waar die wyfie slegs ongeveer 16kg weeg is die mannetjie heelwat groter en dubbel haar gewig. Van kop tot stert is sy lengte boonop tussen 1,2 en 1,6 meter. “With their powerful build and large canines, they can fight viciously to the death and old males can become treacherous,” sê my betroubare boek.

Dit sal beslis nou moeiliker as ooit wees om my te oortuig dat die see meer kan bied as die bos met sy wilde diere en stilte.

‘n Kaapse mannetjiesbobbejaan langs ‘n groot rots.
‘n Visvanger met sy ontbyt – ‘n skerpioen.
‘n Muishond is vinnig maar duidelik te stadig vir die blouaap.
‘n Blouaap sit in ‘n boom nadat hy ‘n muishond geterg het.
‘n Muishond.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.

Related Articles

Back to top button