Meer as 20 stappe oor braai: Die een ding wat ‘n man moet doen!
Daar is 22 stappe vir ‘n man as dit kom by vleisbraai. Wanneer ‘n man besluit om te braai, word die volgende kettingreaksie aan die gang gesit…
Nasionale Braaidag is hier. Dit is ‘n dag vir ontspan, kuier en natuurlik braai.
Die Herald het destyds ‘n oulike berig ontvang met die titel Los die braaiwerk vir die manne en dis ‘n legendaries ene. Die skrywer is onbekend maar Mariana Nel wat dit vir die Herald aangestuur het, het wel genoem dat dit meer as ‘n dekade gelede in ‘n Caxton-koerant in Mpumalanga gepubliseer is.
Clinton Botha, die News/ Herald-redakteur het dit goedgedink om die berig te deel.
Vleisbraai is die enigste soort kosmaak wat ‘n ware man sal doen. Daar is 22 stappe vir ‘n man as dit kom by vleisbraai. Wanneer ‘n man besluit om te braai, word die volgende kettingreaksie aan die gang gesit:
1. Die vrou gaan koop die vleis
2. Die vrou koop die bykossies, soos mieliemeel vir die pap
3. Die vrou koop ook die kole
4. Die vrou moet die vuuraanstekers onthou
5. Die vrou moet nie die vuurhoutjies vergeet nie
6. Die vrou maak seker dat daar genoeg speserye is
7. Die vrou berei die slaai, pap en sous voor
8. Die vrou maak ook seker dat daar genoeg ander verversings is
9. Die vrou kry die braaigereedskap, wat haar man vir haar as ‘n geskenk gekoop het, reg
10. Die vrou is verantwoordelik om te kyk of die braaier skoon is
11. Die vrou kry die vuur aan die gang
12. Baie belangrik: Die man plaas die vleis op die rooster
13. As die vrou wil, kan sy ander goed, soos mielies, op ‘n ander rooster sit
14. Die vrou gaan na binne om die borde en eetgerei reg te kry
15. Die vrou kom uit om die man te vertel dat die vleis besig is om te brand. Hy bedank haar en vra of sy nog ‘n glasie sal gooi terwyl hy die situasie onder beheer bring
16. Weereens belangrik: Die man verwyder die vleis van die rooster en gee dit vir die vrou aan
17. Die vrou sit al die kos gereed op die tafel
18. Na ete dek die vrou die tafel af
19. As die tafel afgedek is, was die vrou al die skottelgoed
20. Almal bedank die man vir ‘n heerlike braai
21. Later vra die man of die vrou darem haar ‘aandjie af’ geniet het
22. Wanneer hy die reaksie op haar gesig sien, besluit hy daar is ook niks wat vroue sal tevrede stel nie!
Lekker braai manne!