Homelake-rioolprobleem opgelos … na agt dae
"Dit het die munisipaliteit omtrent drie ure geneem om die blokasie oop te maak. Ons kon toe eers uiteindelik die toilette spoel."

‘n Rioolprobleem wat ‘n groot gesondheidsrisiko vir ‘n gesin in Beatricelaan, Homelake ingehou het is na agt dae opgeklaar.
Lees ook: Gesin sit met groot gesondheidsrisiko weens rioolprobleem
Nadat die gesin vir minstens ‘n week in aaklige omstandighede moes leef het Natasha Broodryk (een van die inwoners) aan die Herald bevestig dat die probleem uiteindelik op Donderdag, 10 November opgelos is.

“Dit het die munisipaliteit omtrent drie ure geneem om die blokasie oop te maak. Ons kon toe eers uiteindelik die toilette spoel,” het sy verduidelik.

Rand-Wes Plaaslike Munisipaliteit-woordvoerder Phillip Montshiwa het bevestig dat die probleem uitgesorteer is.
“Ons het klaar begin skoonmaak, die hele plek uitgespuit en ontsmet. Dit moet nou net alles droog word dan kan ons alles begin terug sit – dit is nou net die buitekant want ons nie weet hoe om skoon te maak nie en hoop maar die reën was dit weg.”

Nou dat die probleem opgelos is, het Frank Coetzee, wie saam Broodryk op die perseel woon, vertel dat hy probeer reël dat die eienaar van die huis ‘n terugvloeiklep (backflow valve) opsit dan sal die water nie opstoot nie. Hy het verder verduidelik dat dit alles net weer gaan gebeur totdat die hoofoorsaak van die probleem opgelos is.
“Daar is ook ‘n groot oorlading van die rioolwerke weens teveel inwoners en uitbreidings,” het Coetzee vertel.