Noordweg-pad kry nodige aandag, maar Oom Piet kort hulp
Alhoewel Oom Piet en sy span hard besig is om Noordwegpad reg te maak, benodig hy steeds skenkings om aan te gaan.
Oom Piet (Piet Lottering) is al ses weke lank besig om die Noordweg-pad tot sy eertydse glorie te herstel, maar het nog skenkings nodig om voort te gaan.
Ná die onlangse swaar reënval is die einste pad se dreine verstop. Dit is volgens Oom Piet wat die afgelope tydperk vyf dreine in die straat skoongemaak het.
• Lees ook: Verstopte drein in Noordweg: Oom Piet en span spring weer in
“Die reënwater het bly lê in die pad. Die kans dat die teer so gaan hou is baie skraal – veral met die vragmotors wat die pad gereeld gebruik. Een van die grootste redes hoekom ons besluit het om die kruising se dreine skoon te maak, is as gevolg van die skoolkinders wat die pad gebruik,” het hy verduidelik.
In totaal het Oom Piet twee vragte sand en rommel uit die dreine verwyder.
Oom Piet het ook in hierdie tydperk die slaggate op die pad reggemaak, ook die een oorkant Palm Eiendomme. Hy het ook slote gegrawe sodat die reënwater nie weer opdam nie.
• Lees ook: Oom Piet is terug in aksie
Hy het verder opgemerk dat hy nie sal kan voortgaan as hy nie skenkings kry nie.
“Ek kry glad nie meer skenkings nie. Ek probeer regtig my bes. Wat ek doen, doen ek steeds vir liefdadigheid. As elke persoon wat my bedank het vir my ‘n skenking gegee het, kon ek maklik voortgaan.
“Ek verstaan almal kry swaar, maar as almal net ten minste R10 kan skenk sal dit meer as genoeg wees,” het hy gesê.
Indien iemand ’n skenking wil maak, kan hulle Oom Piet by 083 275 8731 kontak.



