Oom Piet is terug in aksie
Oom Piet is weer volstoom aan die gang, maar kort die gemeenskap se ondersteuning om die paaie te herstel.
Piet Lottering, bekend as Oom Piet, het vir ‘n tydjie ‘n stilstand ondergaan weens ‘n gebrek aan fondse. Hy het wel besluit om sy heldedaad voort te sit met die fondse wat hy ontvang het, al was dit bittermin.
Op 5 Desember het Oom Piet op ‘n ekspedisie gegaan om die berugte slaggate by die Greenhills-begraafplaas reg te maak. Hy en sy span het glo sowat 187 slaggate op dié pad reggemaak.
• Lees ook: Is daar samewerking tussen Oom Piet en munisipaliteit?
“Ek sou baie graag nog gate wou toemaak, maar dit was vyf ton teer. Ek het R437 se skenkings van mense langs die pad gekry. Ek het nie meer geld vir teer nie. Terselfdertyd weet ek almal het ‘n moeilike jaar gehad,” het oom Piet uitgespreek.
• Lees ook: Oom Piet sterk aan na noodoperasie
“Ek probeer nog kyk of ons die res van die gate kan vul. My hardewarewinkel se besigheid is ook nie goed hierdie jaar nie. Die Here is goed vir my, maar ek wil graag nog gate toemaak.”
Die res van die teer wat Oom Piet vir sy projekte gebruik, koop hy met sy eie geld.
Hy wou ook verder uitspreek dat die vulstasie op die Ventersdorp-pad nie deur hom besit word nie.
“Baie mense dink omdat die vulstasie se naam Oom Piet is, is dit my besigheid. Ek wil net beklemtoon dat ek glad nie so ‘n besigheid besit nie,” het hy gesê.
Indien iemand belangstel om ‘n skenking aan Oom Piet se slaggatprojek te maak, kontak hom by 083 275 8731.