Oom Piet en span al weer ‘op ‘n rol’
Inwoners kan uitkyk vir Oom Piet en sy span wat weer hard besig is om paaie reg te maak … onweer of nie.
Oom Piet (Piet Lottering) en sy span het Maandag, 7 April, weer tyd gemaak om padveiligheid te bevorder – hierdie keer deur die berugte slaggate op die Ventersdorppad reg te maak.
• Lees ook: Noordweg-pad kry nodige aandag, maar Oom Piet kort hulp
Drie groot slaggate het dié pad amper onbruikbaar gemaak voordat Oom Piet besluit het om in te gryp. Volgens hom het hy sy werkers gereed gekry om die hele dag lank aan die herstel van die pad te werk.
“Ons grawe die rande van die pad oop en gooi nuwe teer in. Al sukkel ons omdat die son nie skyn nie, kan ons nie langer wag om hierdie gate toe te maak nie.
Geen mens kan met ‘n motor deur hierdie slaggate ry nie,” het hy gesê.
Hy het verder genoem dat die slaggate waarskynlik ontstaan het weens swaar vragmotors wat die teer uitskuur, sowel as reënwater wat in die gate opdam.

“Ons doen ons uiterste bes om mense veilig te hou. Vir my is dit van kardinale belang dat die gemeenskap veilig is. Randfontein is my tuiste – ek is hier gebore en ek sal hier werk tot die dag wat ek doodgaan. Ons sal werk, ons sal wen, en ons sal die dorp opknap om weer een van die beste te wees,” het hy afgesluit.
• Lees ook: Oom Piet is terug in aksie
Oom Piet beplan ook om nog verskeie ander slaggate reg te maak, insluitend dié in Greenhills.
Indien iemand graag wil bydra tot Oom Piet se slaggat-ekspedisie, kan hulle hom kontak by 083 275 8731.



