High SchoolLocal news

Drie Jannas-personeellede tree af, insluitend hoof

Jannas se skoolhoof, adjunkhoof en departementshoof tree al drie aan die einde van 2022 af.

Drie besonderse personeellede van Hoërskool Jan Viljoen se loopbane het tot ‘n einde gekom.

Skoolhoof Sarel Steyn, adjunkhoof Almarie Katzke en Departementshoof Enza Steyn tree al drie aan die einde van 2022 af.

Hulle het die Herald vertel hoe baie hulle die skool en sy leerders gaan mis.

“Om te groet is nooit lekker nie, en om afskeid te neem is nooit ‘n aangename taak nie. Dis hartseer wanneer iemand uit die onderwys aftree. Daar is ‘n leemte van kennis en ervaring wat agtergelaat word,” het onderwyser Rudi van Wyk vertel.

Hy het vertel dat hulle nie net uitmuntende onderwysers is nie, maar was ook al drie lede van die skool se bestuurspan en wanneer hul diensjare bymekaar getel word, dan kry jy presies 100 jaar en ses maande.

“Jannas gaan beslis hierdie groot verlies voel, maar die wins wat agter gelaat word is die kennis en ervaring en die menswees van hierdie besonderse persone wat as nalatenskap gaan voortleef in die nuwe skoolbestuur en onderwysers vir die jare wat kom. Jannas weet hulle het die pad voor ons uitgegaan, en die skool ten alle tye na die beste van hulle vermoë gedra.”

Skoolhoof Sarel Steyn het vertel dat die geleenthede wat die skool en bestuur hom gebied het was legio en daar was geen beperking op waar jy betrokke wou wees nie.

“Die skool en bestuur het my altyd ondersteun, hetsy dit was om ‘n nuwe vak te begin of die rare verskynsel om as man netbal af te rig en te skeidsreg. Die kameraadskap en omgee vir mekaar onder die personeel was vir al my jare ‘n riem onder die hart. Jou mede-kollegas was altyd daar vir raad, vriendskap en ondersteuning. Hier het ek nie net kollegas gehad nie, maar het ek lewenslange vriende gemaak.

“As ‘n mens terugdink was Hoërskool Jan Viljoen nie net ‘n werk gewees nie, maar dit was my lewe. Ek het meer tyd by die skool spandeer as by my huis, na-ure se sport, skooltoere tydens vakansies, leierskapsopleiding, sport en oor naweke. Hoërskool Jan Viljoen was my tweede huis en daarom neem ek baie swaar afskeid van hierdie hoofstuk in my lewe.”

Hy het vertel dat hy ‘n rustigheid in hom het omdat hy weet dat hy sy alles gegee het vir die skool.

“Daarom sê die Spreuke-digter is daar, dan na 36 jaar diens, ‘n tyd om ook te gaan. Geen sukses gaan bereik word sonder harde werk nie.”

Adjunkhoof Almarie Katzke het gesê dat sy 33 geseënde jare by Hoërskool Jan Viljoen beleef het en dit was werklik vir haar ‘n tweede huis en deel van haar familie.

“Ek is dankbaar vir elke kind wat my pad gekruis het en die lewenswysheid wat ek kon opdoen. Ek is ook baie opgewonde oor Hoërskool Jan Viljoen se toekoms. Die skool en sy mense sal altyd deel van my gebede wees. Eenmaal ‘n Janna, altyd ‘n Janna!”

Departementshoof Enza Steyn het 35 jaar gelede as jong onderwyser by Jannas begin en deur die jare onder die bekwame leiding van verskeie mentors gegroei.

“Ek onthou die vroeë jare toe ons skooldrag verander het, toe daar nog trompoppies en kadetorkeste was en optogte deur Randfontein se strate met ‘n groot kermis en sportbyeenkomste wat daarmee saamgaan. Ek het ervaar hoe dogters ook ‘n volwaardige plek in die tradisionele “tegniese seunskool” gekry sodat ons onlangs verskeie dogters as presidente gehad het.

“Ek is dankbaar vir die rol wat kollegas en leerders gespeel het in die vorming van my menswees en ook vir die geleenthede en bekwame onderwysers wat my eie kinders gehad om hulle te ontwikkel in volwaardige volwassenes wat hulle plek volstaan in die grootmenswêreld.”

Sy het vertel soos Jannas altyd deur die jare aangepas het by veranderinge en glo die skool sal steeds vir leerders ‘n suksesvolle toekoms verseker onder die leiding van nuwe leierskap.

“Hoërskool Jan Viljoen is in 2023 reeds 85 jaar oud, en in die volgende diensjare van onderwysers sal ons steeds bly voortstreef om ‘n gelukkige Janna-leerder se tuiste te wees,” het Enza afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button