Local news

Gaan Oom Piet af tree?

Oom Piet het die Randfontein Herald genader en vertel dat hy heel moontlik gaan ophou om slaggate vir die gemeenskap toe te maak weens te min donasies.

Piet Lottering, beter bekend in die gemeenskap as Oom Piet, oorweeg dit om af tree en sy slaggat-herstelling ekspidisie te staak weens ‘n tekort aan donasies.

Oom Piet en sy span is al ‘n geruime tyd besig om ‘n verskil in die dorp te maak wat die herstel van slaggate en selfs skoonmaakveldtogte insluit. Dit alles te danke aan skenkings vanaf onder andere skole, besighede en inwoners in Randfontein. Alhoewel Oom Piet steeds hard aan die werk is, het hy bevestig dat sy slaggat-dade op ‘n einde sal moet kom indien die gemeenskap tevrede is met die toestand van padnetwerke.

“Donasies is skaars en Mini Hardware kan nie meer bekostig om R2 000 vir teer uit te haal nie. As die gemeenskap nie donasies inbetaal nie, vermoed ek dat hul tevrede met die paaie is. As daar nie genoeg donasies in kom nie, sal ek moet ophou,” het Oom Piet hartseer aangekondig.

• Lees ook: Gemeenskap staan bankvas agter Oom Piet se regmaak-projek

Oom Piet het bygevoeg dat hy wel krediet vir die munisipaliteit moet gee. Hy het ook opgemerk dat die munisipaliteit baie paaie dek met teer en dat die plaaslike begrafplaas meer gereeld skoongehou word.

“Die gemeenskap moet sê as hul tevrede is dan sal ek die hark en kruiwa neersit. As elke gesin net R5 elke maand kan betaal, sal dit makliker wees om die slaggat-stryd te oorwin.”

• Lees ook: One pothole at a time: Oom Piet and team at it again

Aan die begin van 2023 het Oom Piet sterk aanslag gemaak deur die Greenhills-begrafplaas skoon te hou. Op 22 Februarie het hy toe 87 slaggate gevul en drie ton teer gebruik. In Julie vanjaar vermoed Oom Piet dat hy ongeveer 198 slaggate in een week gevul het en op 10 November het hy begin om slaggate in Greenhills te herstel – en om en by 69 slaggate is reggemaak.

Hy het ook kommentaar gelewer oor die diefstal van straattekens.

“Daar moet vir die polisie opdrag gegee word om ondersoek in te stel want straattekens word gesteel. Sodra die munisipaliteit ‘n gesteelde straatteken vervang dan word die volgende een weer gesteel. Hierdie straattekens word gesteel om skrootwerf toe gevat te word,” het Oom Piet gesê.

Related Articles

 
Back to top button