Dapper Hayden (11) verlos van haar pyn en lyding
Die Randfontein-gemeenskap rou saam met die Forster-gesin ná die afsterwe van 11-jarige Hayden Forster.
Ná ’n lang stryd met aneurismes het Hayden Forster (11) op 22 Oktober haar aardse lewe vir een sonder pyn verlaat.
Hayden se ma, Elaine, het gesê, “Ons kon nie vir ‘n beter dogter vra nie, sy het ons soveel geleer, sy was die sterkste persoon wat ek geken het.”
Sy het verduidelik dat hulle by 13 opgehou het om Hayden se aneurismes te tel. Die meerderheid daarvan kon haar lewe neem, sou dit bars. Die oorsaak van die aneurismes kon egter nooit gevind word nie ten spyte van alle moontlike toetse wat gedoen is.
Gevolglik kon Hayden nie aan sport deelneem nie, maar het haar bes gedoen om skool by te woon al het sy nie altyd baie goed gevoel nie.
• Lees ook: Klein Hayden, 9, veg steeds voort
“Sy was baie lief vir haar maats en onderwysers by RAM. Hulle het haar almal so goed behandel en so baie vir haar omgegee. Sy het baie dae van skool gemis omdat sy deur operasies moes gaan of siek gevoel het, maar steeds het sy die top 10 behaal!”
Hayden laat haar ma, pa, broer, grootouers, tannies en ooms, niggies en nefies, asook almal wat vir haar lief was, agter.
’n Roudiens word môre, 26 Oktober, om 12:00 vir Hayden by Laerskool Randfontein gehou.



