Al die hoë note tydens 500 jaar oue-kerklied viering
Gemeenskappe van so ver as Pretoria het onlangs by Sionspoort in Randgate bymekaargekom om 'n 500 jaar oue kerklied en -viering te aanskou.
Die Hervormde Gemeente Sionspoort het onlangs talle gemeenskappe wat nie net Randfontein of naburige Krugersdorp insluit nie, maar ook tot in Pretoria en die Oos-Rand bekoor met die viering van ‘n 500 jaar oue kerklied.
Volgens orrelis Rudi van Wyk is dit 500 jaar nadat die eerste Protestantse liedboek met net agt liedere deur die kerkhervormer Martin Luther verskyn het.
Hy het verder verduidelik dat die eerste liedboek vir kerkmusiek (wat in suiwer Afrikaans geskryf is) eers in 1944 gepubliseer is.
“Die geleentheid was ’n prettige orrelfees met samesang en beurtsang begelei deur die kerkorrel, verskeie instrumente en twee soliste,” vertel Rudi.
Die program was gratis aangebied vir diegene wat ‘n liefde vir kerkliedere het. Die eeue is opgedeel in vyf eeue en Rudi het bygevoeg musiek is uit elke eeu gekies om in die kerkgebou te weerklink.
“Die Trans Oranje Koor vir Dowes in Pretoria was die eregaste wat gesorg het dat inwoners met gestremdhede ook die liedere kon geniet terwyl die kooronderwysers die hele program met gebare taal aan die koorlede vertolk het. Verder is daar ‘n verwerking van die nuwe Vonk bundel in die program gebruik wat deur Ds Hannes van der Merwe [2024] op ‘n ou melodie gesing is, wat uit die vierde eeu dateer met die titel, Leef jou lied.”

Die slotlied, sê Rudi, was uit die liedboek Gesang 464: O Heer my God waar die gemeente, orrel en instrumente almal saam gejubel het terwyl die koor die lied vir vier verse saam in gebaretaal vertolk het.
“Dit was ‘n hoendervleis oomblik gewees. Al leef ons vandag in ‘n moderene era, sal sekere dinge altyd blywend wees en die hart oor en oor aanraak,” het Rudi verduidelik.
Hy het bygevoeg die doel van die program was om dankbaarheid te vertoon, dat hul steeds die liedere in Afrikaans kan sing en dat hul ook hulde aan God kan bring.
“Dit is ons plig om die kerklied steeds aan mense te bring, en die jonger generasie daaraan bloot te stel. Dit is vir my as orrelis van die Sionspoort Gemeente ‘n geweldige passie en liefde om orrelmusiek en die kerklied altyd bloot te stel aan mense, want ek glo dit is lafenis vir ons siel in ons gejaagde lewe.
“Dit is ook belangrik om kinders saam met die orrel te laat optree want dit is waar die liefde gekweek word. Dit is egter ook so gedoen met die kinderlied, Here Jesus ek is klein deur die jonge Kyle Rehbock,” het hy uitgedruk.
Hy het verder genoem Sionspoort se orrel sal in 2025 reeds 55 jaar oud wees – opgerig deur die Suid-Afrikaanse Orrelbouers in 1970. Die samestelling van die orrel is deur die destydse raad van kerkmusiek goedgekeur vir goeie gemeente begeleiding. Dit spog ook met oor die 700 pype in sy pypkas.



