Hervormde Kerk Sionspoort se Kersmark ‘beslis ‘n sukses’
Die gemeenskap het na Sionspoort se jaarlikse Kersmark gestroom vir verskeie handgemaakte produkte en heerlike tuisgebak.
Die Hervormde Kerk Sionspoort het hul jaarlikse Kersmark gehou met ‘n verskeidenheid kossoorte beskikbaar waar die Damesvereniging van die Hervormde Gemeente Sionspoort (NHSV) se gewilde kleinkoekies ook te sien was.
Sheryl van Staden, voorsitter van die NHSV, het die doel van die Kersmark beskryf as ‘n geleentheid vir die kerk se lidmate om hul kreatiwiteit en vaardighede met die gemeenskap te deel. Die gemeenskap kon dan ook unieke Kersgeskenke vir hul geliefdes koop.
“Die groep kreatiewe dames van die NHSV en ander gemeentelede is deur die jaar besig om spesiale handgemaakte geskenke vir die gemeenskap te maak,” het Sheryl gesê.
Sy het verder gesê hul eerste Kersmark is in 2002 gehou, wat dit dan hul 23ste mark hierdie jaar maak. Voorheen was die mark deel van die gemeente se basaar, maar sedert die begin van die Vleisfees is die mark nou op sy eie.
“Die Madeliefie-teetuin, wat saam met die Kersmark aangebied word, het sy oorsprong by die Vleisfees gehad waar die teetuin ’n verversing vir moeë feesgangers gebied het,” het Sheryl bygevoeg.
Sy het gesê die mark is deur die NHSV gereël.
“Hulle hooffokus is barmhartigheid. Hulle het talle projekte in die plaaslike gemeenskap, byvoorbeeld die Kosmos-projek wat aan behoeftige skoolmeisies persoonlike items en vele ander projekte voorsien. Die NHSV ondersteun ook landwye aksies soos ‘n beursfonds en instansies soos kinderhuise en ouetehuise.”