Prettige liggierit sorg vir feesgees
Twee liefdadigheidsgeleenthede het gesorg vir 'n prettige feesseisoenviering.
Die Ekumeniese Forum het hande gevat met die gemeenskap om die feesseisoen van 2024 op ‘n goeie noot af te sluit.
Die Ekumeniese Forum het vroeg verlede maand twee verskillende fondsinsamelings gestig om twee instansies met skenkings te ondersteun.

Eers was daar ‘n byeenkoms om op ‘n vragmotor in die dorp rond te ry. Die vragmotor het by verskeie tehuise stilgehou en die inwoners op Kersliedere getrakteer. Die geleentheid het in Randfontein-Wes begin waarna die vragmotor uiteindelik oorkant Mapogo A Mathamaga se kantore stilgehou het om by die fietsryers aan te sluit.
Om 19:00 het beide die vragmotor en fietsryers vertrek na Renaissance Tehuis. Verder het die vragmotor om die dorp gery en die Kersliggies bekyk. Mapogo se personeel het die vragmotor gebegelei. Die geleentheid was ‘n fondsinsameling vir No More Tears Animal Rescue.

Volgens dominee Edwin van Wyk was daar baie gemeenskapslede wat die geleentheid waardeer het.
“Hierdie geleentheid is ‘n manier waarop kerke na die publiek kan uitreik. Ons het kragte saamgesnoer met Randmark om hierdie jaar weer met groot sukses af te sluit. Mapogo het ‘n geweldige werk gedoen,” het hy gesê.
Hierna het die Ekumeniese Forum weer vergader om fondse vir Rainbow Daycare in te samel. Verskeie kerke het toe ‘n orkes gestig om Kersliedere vir die publiek by Tambotie Winkelsentrum te sing.
“Die samesyn en samewerking was uitstekend. Ek glo almal wat dit bygewoon het, het die geleentheid terdeë geniet,” het hy afgesluit.



