Slangbyt keer nie vir Neelsie
Kerneels die Jack Russell is weer sy ou self nadat hy deur 'n Rinkhals gepik is.
Die langhaar Jack Russel, Kerneels, het die pik van ‘n Rinkhals oorleef en die Randfontein Herald het meer as ‘n jaar ná die voorval met die eienaar oor sy toestand gepraat.
Op 18 November 2023 het Kerneels ‘n stoeigeveg met ‘n Rinkhals gehad en die woef se eienaar, Gert Coertze, het gesê dat hulle nie op daardie oomblik geweet het dat Kerneels deur die slang gepik is nie. Ná sowat 20 minute het Gert opgemerk dat Kerneels van balans was en dat die tandvleis aan sy onderkaak gebloei het.
Kerneels is dadelik na ‘n veearts geneem vir behandeling waar hy lank om sy lewe geveg het. Hy is uiteindelik genees.
• Lees die oorspronklike artikel hier: Kerneels hou sterk na slangbyt
Dalene Coertze het bygevoeg dat dit ‘n vreesaanjaende tydperk was. Alhoewel dit beslis kommerwekkend was, het Kerneels sterk gehou en is nou terug na sy geesdriftige self.
“Ons het Kerneels by die veearts gekry. Hy was so klein dat ons hom nog moes voer. Nou is hy al agt jaar oud. Hy is so saggeaard en gee altyd in vir sy hondevriende. Hy is so lief vir speel. Hy lê ook graag teen ‘n mens. Sy gunsteling is penskrappies en elke aand kry hy ‘n peuselhappie,” het sy gesê.
Sy het bygevoeg dit maak nie saak watter soort dier jy het nie, jy moet onthou dat diere deel van jou lewe is – maar ons is die dier se hele lewe. Hulle verskaf vrede in hierdie hartseer wêreld. Hulle is ons rede om huis toe te gaan.”



