Lareishka ‘n INK-spirasie vir baie
Tatoeëerkunstenaar Lareishka Marais gebruik mense as 'n kunsdoek om haar kreatiwiteit uit te druk.
As kind het sy daarvan gehou om te teken en te verf.
As volwassene het Lareishka Marais in die Wes-Kaap gaan werk, waarna sy eendag besluit het om te gaan stap.
Ongelukkig het sy van die rotse afgeval en was sy vir byna agt maande afhanklik van krukke.
Dit was gedurende hierdie tydperk dat sy ‘n tatoeëermasjien gekry het. Nadat sy haar tatoeëringkursusse voltooi het, het sy onmiddellik geweet dat sy ‘n tatoeëerkunstenaar wil wees.
Sy tatoeëer nou al sewe jaar.

“Ek leer steeds elke dag iets nuut. Soos tegnologie verbeter, probeer ek om op datum te bly met nuwe style en toerusting,” het sy gesê.
Haar kenmerkende styl is fyn lyne. Lareishka het vertel dat dit haar lank geneem het om hierdie styl te bemeester. Sy het bygevoeg dat elke persoon se vel verskil en dat dit daarom belangrik is om jou tegniek goed te verfyn.
“Dit is wonderlik om kliënte se uitdrukkings te sien wanneer hulle al die fyn besonderhede van hul tatoeëermerk bekyk.
“Wat ek die meeste geniet – buiten die kuns self – is dat ek soveel mense kan help deur te luister en raad te gee. Baie keer bring tatoeëermerke mense vrede, insluitend dié wat geliefdes verloor het, troeteldiere moes afstaan of deur die einde van ’n verhouding gaan. Tatoeëerkunstenaars word gesien as mense wat nie oordeel nie, en daarom praat kliënte hul harte uit – dit is wat ek die meeste liefhet,” het sy verduidelik.
Sy beleef wel uitdagings in haar loopbaan.

“Dit lyk dalk of die kunstenaar net sit en teken, maar die spanning op ons hande, gewrigte en skouers kan intens wees. My tweede huis is my chiropraktisyn. Nog ‘n uitdaging is kliënte wat nie stil kan sit nie,” het sy met ’n glimlag gesê.
Lareishka het verder verduidelik dat elke tattoo-ateljee ‘n sertifikaat ontvang om gebruikte naalde op ‘n etiese manier weg te gooi.Haar grootste motivering is haar familie.
“Die ateljee is geleë op die plot waar die vyfde generasie nou grootword, en ek het hulle verskriklik lief.
“Sy gee ook raad aan dié wat belangstel om tatoeëerkunstenaars te word.
“Die beste raad wat ek kan gee vir iemand wat hierdie beroep wil volg, is ‘practice makes perfect’. Oefen, oefen, oefen. Dit is ‘n nuwe kuns wat jy aanleer, en dit gebeur nie oornag nie. Byt vas, al het jy net een kliënt per week. Vordering bly vordering. Kyk na jou kliënte – hulle word familie, en as hulle gelukkig is, bly hulle lojaal.”



