Kleuter (3) se dood wek vrae oor nooddienste se reaksie
'n Pa bevraagteken die dienste en doeltreffendheid van staatshospitale asook klinieke nadat sy 3-jarige kleuter sterf.
Die tragiese dood van die driejarige Ella van Wyk het haar ouers laat wonder of staatshospitale en -klinieke in staat is om mense in nood behoorlik te help.
Ella is op 11 Junie aan komplikasies as gevolg van mangelontsteking oorlede. Volgens haar pa, Louis van Wyk, is daar intussen ’n geregtelike doodsondersoek by die Westonaria Polisiestasie geopen.
Hy vertel dat Ella vroeg reeds tekens van die siekte begin toon het. Hulle het haar na ’n kliniek geneem waar ’n verpleegster medikasie gegee het, maar dit het nie gehelp nie en haar toestand het verder versleg.
“Dit was so koud by die kliniek, en Ella kon nie ophou huil nie. Ons was vroegoggend daar, maar moes steeds ure wag voordat ons gehelp is,” het Louis vertel.
’n Paar dae later, toe haar oë begin swel het, het hy besef iets is fout. Hy het haar dadelik na ongevalle geneem, vanwaar sy na die pediatriese kliniek verwys is. Daar het ’n dokter haar ondersoek en bevestig dat sy mangelontsteking het.
Volgens Louis het die dokter gesê dat Ella vyf keer ondersoek sou moes word voordat haar mangels verwyder kon word.
Daardie selfde dag, sowat 30 minute nadat hulle tuisgekom het, het Louis se skoonma saam met Ella in die kombuis gesit. Skielik het sy ophou asemhaal.
Louis het vertel dat sy skoonma begin skree het om hulp, en dat die ambulans eers 45 minute later opgedaag het. Intussen het sy skoonpa se suster kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toegepas.
“Toe die nooddienste uiteindelik daar aankom, het hulle glad nie KPR uitgevoer nie. Hulle het net bedrading op haar kop gesit en haar breindood verklaar,” het hy gesê.
Ella is volgens Louis om 16:00 dood verklaar.
‘n Gedenkdiens vir Ella is op 24 Junie by Martin’s Funerals gehou. Sy is die volgende dag veras.
Die Van Wyk-familie het hul hartseer met waardigheid gedeel. Enigiemand wat hulle graag wil ondersteun, kan vir Louis kontak by 072 214 2430.



