Local news

Ek kan nie net opgee nie – JJ (21) na kankerdiagnose

Na ’n skokkende diagnose van ’n seldsame beenkanker, hoop 'n 21-jarige dat die gemeenskap hom sal bystaan met sy stryd teen Ewing-sarkoom.

John Robert Venter (21), beter bekend as JJ, is onlangs met ’n seldsame beenkanker, spesifiek Ewing-sarkoom, gediagnoseer. Hy benodig dringend die gemeenskap se hulp om hierdie stryd te oorwin.

Sonder ’n mediese fonds kan JJ nie die nodige behandeling ontvang nie, en daarom hoop hy dat die gemeenskap hom sal bystaan met die finansiële uitdagings wat voorlê.

JJ het aan die Randfontein Herald vertel dat hy voor sy diagnose ’n gesonde lewe gelei het. Gedurende sy hoërskooljare was hy aktief in rugby en ná matriek het hy begin netbal speel.

Tydens ’n netbalwedstryd het hy sy laerrug beseer ná ’n val. ’n Week later het hy weer geval, dié keer by ’n vriend se huis. Ná ’n doktersbesoek is hy meegedeel dat dit slegs ’n spier-spasma was wat met tyd sou verdwyn. Selfs na verskeie inentings en fisioterapie het JJ egter besef dat iets ernstiger fout was.

JJ (middel) saam met sy sussie Merelde Venter (regs) en haar kêrel, Ian Lindsay.

Na een van sy fisioterapie-sessies is hy vir X-strale gestuur, waar ’n gekraakte rugwerwel ontdek is. Sy pyn het daarna vererger en hy het begin gewig verloor. Op 31 Julie het hy weer ’n dokter gekonsulteer en ’n rekenaartomografie-skandering ondergaan.

Die skandering het ’n moontlike kanker gewys en hy is na ’n kliniek verwys vir verdere toetse. Op 5 Augustus is die diagnose bevestig: beenkanker.

“Toe ek die diagnose ontvang het, was ek eers geskok. Later toe kom die hartseer en bekommernis, maar ek het besef ek kan nie net opgee nie,” het hy vertel.

Sedertdien het JJ reeds vier van die sewe nodige bestralingsessies ondergaan. Daarna wag chemoterapie.

Tans het JJ geen mobiliteit in sy onderlyf nie. Hy het verduidelik dat die bestraling hopelik sy gevoel en beweging in die bene sal terugbring.

Hy sê sy lewenslus en geloof hou hom staande in hierdie moeilike tyd. Sy hoop is om volkome gesond te word en weer ’n normale lewe te lei.

JJ het ook ’n boodskap van hoop gedeel:

“Die Here dra jou elke dag en jy is nooit alleen nie. Daar is soveel mense wat vir jou omgee en jy beteken iets vir daardie mense,” sê hy.

Enigiemand wat JJ wil ondersteun, kan hom skakel by 063 470 0867 of sy suster, Merelda Venter, by 076 654 0503.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Dominique Duvenhage

Dominique Duvenhage joined the Randfontein Herald team in 2023. From a young age, she developed a great fascination with words and language. At the age of 12, she started writing novels and thereafter eventually began to write poems. Being a journalist is not a job for her, it is a career. As your community journalist, she has taken a pledge to write truthfully and reliably.

Related Articles

Back to top button