Local news

Transoranje Koor vir Dowes toer na Karoo vir unieke ervaring

Die Transoranje Koor vir Dowes het 'n toer aangepak na Merweville waar hul 'n unieke kooruitvoering aan die gemeenskap voorgestel het.

Die Hervormde Gemeente Sionspoort se orrelis, Rudi van Wyk, was onlangs deel van Merweville se Dankfees waar ’n nuwe projek vir die eerste keer in ’n musiekoptrede omskep is.

Die Transoranje Koor vir Dowes het ’n 3 000km-toer na die Karoo onderneem, met uitvoerings in Merweville en Sutherland. Tydens die NG Kerk Merweville se Dankfees het Rudi, prof. Theo van Wyk en die koor die nuwe vrystellingslied Waar stilte sing aangebied.

Rudi het ook saam met Laerskool Merweville ’n musikale item uitgevoer en die samesangstuk Hoe groot is U begelei.

Die musiekprogram spruit uit die projek Waar stilte sing. Rudi het vir Theo, verbonde aan die musiekafdeling van die Universiteit van Pretoria, genader nadat die Transoranje-koorlede in 2024 tydens ’n program in Sionspoort sekere windvibrasies van die pyporrel kon voel en ervaar. Hy het verduidelik dat dowe koorlede die orrel op hul eie manier kon “hoor”, wat ’n verbasende ontdekking was.

Danel Hoon.

Na Rudi se oproep aan Theo is besluit om ’n inklusiewe orrelwerk vir die koor te komponeer. Die doel was nie net om vir hulle ’n eie orrelwerk te skep nie, maar ook om groter bewusmaking van die pyporrel by gehore tuis te bring. Só het die projek Waar stilte sing ontstaan en ’n nuwe wêreld van eksperimentering en navorsing betree.

Die orrelwerk, bestaande uit vier bewegings met ’n koraalstyl refrein, is deur Theo gekomponeer. Die woorde van die refrein is deur Rudi geskryf. Die werk word amptelik op 20 September in Sionspoort bekendgestel en bevat Afrikaanse lirieke wat aansluit by die 100-jarige viering van die Afrikaanse taal.

Die toer het op 30 April begin met ’n besoek aan Bloemfontein, die Gariepdam en daarna Merweville, waar ’n Karoo-braai onder die sterre plaasgevind het.

Die Merweville kerkgebou.
Die Merweville kerkgebou.

Op dag drie het die koor hul eerste optrede in Sutherland gehou, saam met Theo en plaaslike orrelis Anelda Blomerus. Hier het Hands of Harmony ook hul splinternuwe koorklere vir die eerste keer gedra.

Die debuut van Waar stilte sing het as ’n orrelwerk plaasgevind, met instrumentale begeleiding deur vioolspeler Monique van der Merwe van Fraserburg. Op dag vier is dit by die Dankfees ten volle uitgevoer.

Die ATKV Comenzo-tak in Randfontein het deelname-sertifikate aan die koor, Laerskool Merweville en ander musikante oorhandig. Die laerskool het ’n spesiale koor saamgestel en ’n slagwerk-item uitgevoer.

Die Transoranje Koor vir Dowes tree op in gebare taal.

“Omdat die skool so klein is, was die hele skool by die projek betrokke om gemeenskapsbetrokkenheid aan te wakker en mense in te sluit. Dit gaan daaroor om te gebruik wat jy beskikbaar het in die omgewing,” het Rudi gesê.

Die ATKV het ook ’n “klop-op-die-skouer”-toekenning aan plaaslike skrywer, moeder en onderwyser van Fraserburg, Danel Hoon, oorhandig vir haar boek Karoo Eenvoud.

Hoërskool Wolmaransstad het die toer aangegryp om leerders bewus te maak van dowe-inklusie. Tydens ’n saalopening het hulle die gebare-alfabet aangeleer.

Op pad terug het die koor by St Patrick’s CBC in Kimberley middagete geniet en as dank ’n konsert gelewer.

“Dit is hier waar onderwys ook sy rol gespeel het, waar die koor opgetree het vir die St Patrick’s Junior Koor en hulle die geleentheid gebied het om die gebare-alfabet aan te leer,” het Rudi gesê.

Die Transoranje Koor vir Dowes ontvang hul sertifikate.

Hy het verder vertel dat Merweville, geleë in die Groot-Karoo, bekendstaan vir sy historiese kenmerke en dat die dorp na ds. Pieter van der Merwe vernoem is. Die eerste Dankfees is reeds in 1918 gehou tydens die moeilike jare van die grieppandemie.

Vanjaar se Dankfees het die stilte van die Karoo en die wêreld van klank saamgesnoer om musiek as universele taal uit te beeld. Daar was ook ‘n fondsinsameling ten bate van herstelwerk aan Merweville se historiese orrel, wat tans nog aan die gang is.

Rudi het verduidelik dat die doel van die projek was om musiek en stilte te verenig.

“Dit was om musiek universeel uit te beeld en te wys dat mense met gestremdhede [gehoor] doodnormaal funksioneer en ook musiek geniet. Dit gaan oor bewusmaking onder mense van gebaretaal, wat een van ons land se amptelike tale is.”

Hy het afgesluit met Martin Luther King se woorde:

“Even if I knew that tomorrow the world would go to pieces, I would still plant my apple tree.”

Hierdie artikel is ná publikasie aangepas nadat meer inligting aan die lig gekom het. Die Herald vra dus verskoning indien daar enige verwarring ontstaan het. – Red.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Dominique Duvenhage

Dominique Duvenhage joined the Randfontein Herald team in 2023. From a young age, she developed a great fascination with words and language. At the age of 12, she started writing novels and thereafter eventually began to write poems. Being a journalist is not a job for her, it is a career. As your community journalist, she has taken a pledge to write truthfully and reliably.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button