Hennie Minnaar vier sy Afrikaanse erfenis
Trotse Afrikaner Hennie Minnaar deel sy tradisies en stories om sy taal en erfenis te vier.
Hennie Minnaar (55) is ’n trotse Afrikaner wat sy braaivaardighede en kulinêre kundigheid gereeld slyp om sy kultuur en tradisie lewendig te hou.
Hy het onlangs met die Randfontein Herald gesels oor sy geloof en liefde vir kook. Hennie beskryf homself as ’n toegewyde gelowige wat glo in Christus.
“Ek braai gereeld – ten minste elke naweek. ’n Ou sal altyd braai,” het hy gesê.
Hy verkies die harde hout van die Karoo om sy tjops gaar te maak en bedien dit met pap en sous. Buiten om ’n lamsboud oor die kole te braai, jag hy self ook vir sy vleis en maak sommer sy eie wors.
As kind was Sondae vir hom besonders, want dit was ’n dag vir kook. Hy het altyd uitgesien na ’n bord vol groente, rys en hoender – ’n suiwer Afrikaanse tradisie in sy ouerhuis.
Vandag geniet hy steeds Afrikaanse musiek en luister graag na kunstenaars soos Appel en Kurt Darren.
“’n Mens moet nooit vergeet waarvandaan jy kom nie. Ek is beslis ’n trotse Afrikaner,” het Hennie afgesluit.



