Sionspoort wys inklusiwiteit tussen klank en stilte
NHK Sionspoort het twee wêrelde gekombineer met een spesiale orrelkonsert en die uitvoering van die ontroerende musiekstuk, Waar stilte sing.
Die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) Sionspoort het onlangs die gewilde orrelkonsert Waar stilte sing aangebied, waarin klanke en stilte saamgesmelt het.
Nadat predikant dr Johan van Staden die geleentheid met gebed geopen het, het die Alberton Dameskoor groot indruk gemaak met liedere soos Magaliesburgse aandlied en Ligstad met sy pêrelpoorte.

Prof Theo van Wyk het sy orreltalent ten toon gestel met werke soos Kom alle getroues, Nun danket alle Gott en Loof, loof die Heer, terwyl dr Paul Potgieter die panfluit bemeester het met onder meer die Lichtensteiner polka. Marian Esterhuizen, wat van Merweville af gekom het, het Karoo Blessings uitgevoer.

Die hoogtepunt was die lank verwagte optrede van die Transoranje Koor vir Dowes, beter bekend as Hands of Harmony. Groot bewondering het gevolg toe Theo en die dowekoor saam Waar stilte sing uitgevoer het. Daarna het die kerk ’n oomblik van stilte aangebied waarin die koor met mekaar in gebaretaal gekommunikeer het om die wêreld van stilte te beklemtoon.
Gedurende die konsert is verskeie toekennings deur die National Arts Association of SA en die ATKV Comenzo-tak oorhandig – ’n erkenning van deelnemers se harde werk en toewyding.

Toekennings deur die National Arts Association of SA:
Stefan Zeelie, ’n verteenwoordiger van die assosiasie, het die pryse oorhandig.
• Theo is vereer vir sy Musikale Inklusiewe Skepping. “’n Man met ’n hart van goud en ’n hartklop vir musiek en die bewaring van kerkmusiek en orrels in ons land,” het Stefan gesê.
• Alberton Dameskoor het die toekenning Harmonie van Hand en Stem ontvang, namens hulle aanvaar deur Paul Potgieter
• Melinda Botha, die gebaretolk, is bekroon vir Kommunikatiewe Gelykheid vir haar jarelange werk in die dowe gemeenskap
• Megan Bester en Carmen Bredenkamp, dirigente van Hands of Harmony, het die toekenning Lig en Hoop deur Koorleierskap ontvang
• Die Transoranje Koor vir Dowes self is vereer vir Revolusionêre Beeldryke Kooruitvoering. Elke koorlid is met ’n indiwiduele toekenning erken en het hul naam in gebaretaal uitgewys
• Rudi van Wyk, orrelis van NHK Sionspoort en inisieerder van die projek Waar stilte sing, is bekroon vir Musiekverskuiwing sonder Grense

ATKV Comenzo-tak-toekennings:
Takbestuurders Annemarie Alberts en Martie Erasmus het die Comenzo-tak-toekennings oorhandig.
• Theo is weer vereer vir sy toewyding en bydrae tot die bewaring van orrelmusiek, asook vir die komponering van die vierdelige musiekstuk wat selfs dowes in staat stel om die vibrasies van die pyporrel te ervaar
• Marian is bekroon vir haar onbaatsugtige diens in Merweville en vir haar Karoo Blessings-projek wat hoop bring te midde van droogte
• Rudi is beloon vir sy pligsgetroue diens en sy hart vir kinders en die kunste. “Dit was pionierswerk om die wêreld van klank en stilte te vermeng,” het Martie gesê.
• Leria Botha, skoolhoof van die dowekoor, is ook vereer vir haar rol in die bevordering van die koor se droom om die liefde van dowes vir musiek bekend te maak en die grense tussen klank en stilte te verbreek



