VEK wys solidariteit met kankerslagoffers tydens fondsinsameling
Die VEK het die gees van geloof en gemeenskap gevier tydens hul kankerbewusmakingsdag – in eerbetoon aan elke vrou wat dié stryd veg.
Die Volle Evangelie Kerk (VEK) het kankerslagoffers ten volle ondersteun tydens hul onlangse fondsinsameling, waar inwoners hul hare afgeskeer het en oorlewendes hul getuienisse gedeel het.
Pastoor Christo de Beer het verduidelik dat daar nie net vroue in die gemeente is wat deur borskanker geraak word nie, maar dat die kerk ook by gemeenskapskwessies betrokke wil wees.
“Die kerk is meer as net ’n Sondagbyeenkoms. Ons moet ondersteuning bied ten alle tye en op alle vlakke,” het Christo gesê.

Die geleentheid het ontstaan uit die gemeente se besluit om Borskankerbewusmakingsmaand te vier. Christo se vrou, Amanda, is passievol oor die saak omdat sy vriendinne gehad het wat deur borskanker gegaan het.
Gedurende daardie tyd het sy hulle bygestaan en kon daarom uit eie ervaring getuig van die fisiese en emosionele stryd wat die siekte meebring.

Amanda het ondersteuning ontvang van Thea Wille, wat voorheen vir die Kankerassosiasie van Suid-Afrika (Kansa) gewerk het. Thea het items vir verkoop ten bate van Kansa gereël en ook gesorg dat oorlewende Petra Nortje haar getuienis tydens die geleentheid kon deel.

Op die dag was daar lof- en prysliedere, gebede, en getuienisse deur Meredith Hofmeyr en Doreen du Toit, asook ’n gesellige Bingo-aktiwiteit. Amanda het self ook ’n boodskap gedeel oor die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid.

Daarna het inwoners aan die Kansa Shavathon deelgeneem, waar hulle hul hare afgeskeer het ter ondersteuning van borskankerslagoffers.
Die dag het altesaam meer as R2 000 ingesamel, wat direk aan Kansa oorhandig is.



