AJ en sy bees skitter by nasionale skou
Beeste was-en-versorg is AJ Appelcryn (10) se passie, en hy het dit duidelik gemaak tydens die 2025 Nasionale Jeugskou Kampioenskappe toe hy eerste plek verower.
AJ Appelcryn (10) is as die wenner aangekondig tydens die Nasionale Jeugskoukampioenskappe, waar hy met sy was- en versorgingsvaardighede beïndruk het.
In April verlede jaar het AJ aan die Bekker Interskool Jeugskou-kompetisie deelgeneem en die eerste plek behaal.
Kort daarna, in September, het hy in die 2024 Nasionale Jeugskoukampioenskappe se suiwelbees-afdeling meegeding en ’n uitstekende tweede plek verwerf.

Vanjaar het hy weer aan die Bekker Interskool Jeugskou deelgeneem en ’n goue prestasie behaal. Sy wenreeks het voortgeduur toe hy eerste plek gewen het by die 2025 Nasionale Jeugskoukampioenskappe, wat in Upington plaasgevind het.
Volgens AJ se ma, Mia, is dit ’n unieke sportsoort genaamd diereskou, wat groot belangstelling wek onder jongmense wat in boerdery belangstel.

Sy het verduidelik dat die diereskou die was en versorging van plaasdiere insluit, waarna beoordeelaars die diere gradeer op verskeie kriteria soos gesondheid, voorkoms en versorging. AJ neem tans deel aan die suiwelbees-kategorie.

“Alhoewel AJ net die afgelope twee jaar aan hierdie sportsoort deelneem, is sy passie onwrikbaar. Hy oefen elke Woensdag, en voor kampioenskappe oefen hy byna daagliks. As hy ander jongmense kan motiveer, sou hy hulle aanraai om hard te oefen en altyd hul beste te gee. Sy grootste motivering is sy liefde vir diere, en hy wil graag nasionale kampioen bly totdat hy sy skoolloopbaan voltooi het,” het Mia gesê.



