Vriendskap Tuiste bederf hul ondersteuners
Vriendskap Tuiste het hul ondersteuners op ’n feestelike bederfdag bedank vir hul onbaatsugtige bydraes deur die jaar.
Die atmosfeer was feestelik toe Vriendskap Tuiste onlangs ’n bederfdag aanbied om hul ondersteuners te bedank vir al die liefde en bydraes deur die jaar.
Voorsitter Dalena Botha het verduidelik dat die bederfoggend ’n jaarlikse instelling geword het om die vrywilligers te waardeer wat deur die jaar help om die inwoners te bederf. Dit sluit onder meer predikante, pastore, haarkappers, skole, pannekoekbakkers, borge en donateurs in. Hulle is met ’n heerlike ontbyt bederf wat deur die kombuispersoneel voorberei is.

“Op dié wyse wil ons al ons ondersteuners bedank vir hulle onbaatsugtige diens. Ons waardeer elke gebaar en kan nie sonder hulle nie,” het Dalena gesê.

Sy het bygevoeg dat die oggend ’n reuse sukses was en dat die getal vrywilligers elke jaar groei. Hierdie was hul derde bederfoggend – waar die eerste slegs 35 vrywilligers getrek het, was daar vanjaar 60 teenwoordig.

“Dit het ’n groot bederf geword, beslis iets om voor te werk deur die loop van die jaar,” het Dalena afgesluit.




