Randfontein se Kersliggierit bring gemeenskap saam
Opgemaakte fietse, motors en mense het tydens RandMark se gewilde Kersliggierit die gemeenskap in die gees van Kersfees saamgebring.
RandMark se vyfde Kersliggierit in Greenhills het vanjaar weereens bewys waarom die geleentheid so gewild is, en het intussen tot ’n groot gemeenskapsfees ontwikkel.
Volgens Trudie Reid van RandMark het sowat 200 deelnemers, saam met hul versierde fietse, op 5 Desember deur die strate gery om hul vreugde en Kersfeesgees met die gemeenskap te deel.
“Die rit het vanjaar ook weer die No More Tears Animal Rescue-organisasie ondersteun, en die deelname van die honde het ’n hartverblydend bydrae gelewer deur mense nader aan mekaar te bring,” het Trudie gesê.
Volgende jaar beplan die organiseerders om die rit nog groter te maak, moontlik met ’n Kersmark wat by die geleentheid sal aansluit.
Trudie het ook namens RandMark haar waardering uitgespreek teenoor almal wat vrywillig gehelp het om die aand suksesvol en veilig te laat verloop.












