Schools

Lees van kardinale belang in die ontwikkeling van kinders

Dit is belangrik dat beide ouers en onderwysers die belangrikheid van lees moet besef.

Die 2021 Progress in International Reading Literacy Studie het bevind dat 81% van graad 4-leerders in Suid-Afrika ongeletterd is en nie kan begryp wat hul lees nie.

Die Randfontein Herald het juis by plaaslike skole en onderwysers gaan uitvind hoe hulle oor die saak voel en of dit inderdaad ‘n kwessie is.

Chantel Smith, ‘n graad 4-onderwyser wat Afrikaans aanbied by Laerskool Randfontein, het verduidelik dat daar veral ‘n gebrek aan lees met begrip is.

“Kinders kan woorde herken en uitspreek maar hulle het nie begrip van wat dit beteken nie,” het Smith gesê.

Sy het verder verduidelik die rede hoekom dit so prominent onder graad 4-leerders is, is aangesien hulle meer vakke het as in die junior fase. Hulle skryf dan ook toetse en moet die werk verstaan.

“Dit raak moeiliker en sekere kinders bly nie by nie. Dit affekteer ook die tempo van die klas, aangesien daar stadiger deur die werk gegaan moet word en die kurrikulum het sekere vereistes wat jaarliks gedek moet word.”

Sy het ook genoem dat ouers kan help om die gebrek aan begrip te voorkom deur kinders by die huis te laat lees.

Oor die tegnologie-kwessie van selfone en kinders het sy voorgestel dat ouers dit tot hul voordeel moet gebruik.

“Die meerderheid kinders het reeds selfone en kan hulle dit ook gebruik om te lees. Om te verseker die kinders het begrip vir wat hulle lees kan ouers ook saam met hulle sit en vrae vra.”

Sy het verduidelik wanneer kinders nie ‘n woord verstaan nie, wil hulle nie verder lees nie.

“In stede daarvan om net die boek te los kan ouers hul kinders aanmoedig om die woorde te gaan opsoek. Hulle hoef selfs nie noodwendig ‘n woordeboek te gebruik nie, hulle kan die woorde op hulle selfone opsoek.

“Selfone hoef nie weggevat te word nie. Ouers kan kinders aanmoedig om hulle selfone te gebruik om hulle leesvaardighede op te skerp. So kan die gaping tussen tegnologie en lees oorbrug word.”

Sy het opgemerk die gebrek aan lees begrip kan uiteindelik probleme vir kinders in hulle toekoms veroorsaak, veral as hulle by Hoërskool kom en die werkslading is soveel meer.

“In laerskool kan die ouers nog die handboek saam met die kinders deurgaan, maar dit sal nie moontlik wees met die groot hoeveelheid werk wat daar in hoërskool is nie.”

Sy waarsku leerders word dan moedeloos en raak agter met hulle werk.

“Dit affekteer uiteindelik hul matriekpunte wat hul geleenthede op werk beïnvloed. Kinders moet beslis selfstandig kan leer maar dit kan net gedoen word as hulle met begrip kan lees.”

Die belangrikste, het Smith gesê, is egter om ‘n liefde vir lees by kinders te kweek.

“Wanneer kinders forseer word om te lees, word dit ‘n straf. Ouers moet eerder hulle nuuskierigheid prikkel.”

Sy het voorgestel ouers kan ‘n gedeelte van ‘n storie lees en wanneer die kind wil weet wat verder gebeur vir hulle die boek gee om self verder te lees.

Melani Bosman.

Interne departementshoof en graad 5 Afrikaanse onderwyser, Melani Bosman, het bygevoeg dat die liefde vir lees reeds van ‘n jong ouderdom af gekweek kan word.

“Dit is beter as kinders reeds in graad 1 kan lees. Al is dit nie groot woorde nie, maar ten minste drie-klank woorde. Daar is ‘n leesleemte in die kinders wat kan veroorsaak dat hulle ‘n agterstand kry,” het Bosman verduidelik. “Lees is die toekoms en as kinders nie kan lees nie gaan hulle groter struikelblokke teekom in hulle lewe vorentoe. Dit is belangrik dat beide ouers en onderwysers die belangrikheid van lees moet besef.”

Sy het genoem lees hou baie voordele in vir kinders.

“Hulle brei hulle woordeskat uit en verbeter hul taalvaardighede. Kommunikasie-vaardighede word ook verbeter aangesien kinders aan nuwe woorde en sinstrukture bekendgestel word. Dit bevorder hul kreatiwiteit asook hul verbeeldings en konsentrasie vermoë. Dit word gedoen deurdat hulle hul aandag fokus en diepte bereik in ‘n verhaal.

“Hierdie vaardighede is van kritieke belang vir akademiese sukses en persoonlike groei. Daarbenewens bied lees ‘n manier vir kinders om te ontsnap na ander wêrelde en kulture wat hulle empatie en begrip vir verskeidenheid bevorder. Kortom, lees is ‘n sleutelkomponent in die ontwikkeling van vaardighede wat kinders help om te floreer in alle aspekte van hul lewens,” het Bosman afgesluit.

Related Articles

 
Back to top button