Rappies vier Wêreldmoedertaaldag
Rappie-leerders het hul gunsteling Afrikaanse woorde gedeel te ere van Wêreldmoedertaaldag.
Laerskool Rapportryer het Wêreldmoedertaaldag gevier deur leerders en personeel hul gunsteling Afrikaanse woorde te vra.
Volgens skoolwoordvoerder Celeste Wentzel het hul die dag op ‘n kreatiewe en betekenisvolle manier gevier deur leerders en personeel te betrek in ‘n unieke “Gunsteling Woorde”-raad en onderhoude. Die dag het voorsien vir die viering van taal, kultuur en die belangrikheid van moedertaalonderrig.

“Leerders het hul gunsteling woorde in hul moedertaal gekies en aan mede-Rappies ‘n kans gegee om die betekenis daarvan te raai. Van pragtige beskrywingswoorde soos ‘kiekies’ tot ‘liefde’ tot unieke idiome en uitdrukkings. Hierdie speletjie het gesorg vir lag, leer en ‘n nuwe waardering vir taal.”
Sy sê onderwysers het ook hul eie gunsteling woorde gedeel en stories oor die waarde van moedertaal vertel.

“Om in jou moedertaal te leer en te kommunikeer, skep ‘n gevoel van identiteit en verbondenheid,” het een van die opvoeders opgemerk.
“Die dag het almal herinner aan die rykdom en skoonheid van taal. Met ‘n skoolgemeenskap wat trots is op hul moedertaal, was dit ‘n spesiale dag vol betekenis en ‘n viering van woorde wat harte verbind,” het Wentzel afgesluit.



