Rappie-leerders dra die onnie-broek
Juffrouoorbelle en meneerskoene: Laerskool Rapportryer-leerders het Meneer- en Juffroudag met groot kreatiwiteit gevier om fondse vir jeugweek in te samel.
Die bordjies is onlangs verhang toe Laerskool Rapportryer-leerders as onderwysers opgedaag het vir ‘n ‘Meneer- en Juffroudag’.
Dit was nie net pret nie, maar ook ‘n fondsinsameling.
Baie leerders het as hul gunsteling-onderwysers aangetrek terwyl sommige van die leerders hul ‘kwaaiste’ onderwyserstyle uitgebeeld het.
Volgens Celeste Wentzel, skoolwoordvoerder, was hierdie dag een vir die boeke.
Dit was wonderlik om die leerders se kreatiwiteit te sien. Almal het opgedaag en gewys hoe hulle hul onderwysers sien,” het sy gesê.
“Dit was nie net vir die pret nie maar vir ‘n goeie doel, spesifiek jeugweek wat in Mei gehou word. Die skool verwelkom X3de [‘n nie-winsgewende organisasie] en is ongelooflik opgewonde oor wat wag. Dit gaan ‘n reuse sukses wees,” het sy vertel.



Laerskool Rapportryer het besluit om die fondsinsameling te hou om kos, verblyf en vervoer vir die organisasie te voorsien. Die X3de-span spandeer die hele week by die skool waar hulle temas soos geregtigheid, God se stem, emosionele bagasie en gawes met die jeuggroep (leerders) bespreek.
Dit is ‘n interaktiewe program waar hulle ook speletjies speel wat hulle ‘gereedskap’ gee om te kan saam werk en mekaar in ag te neem.
“Hulle bedien ook die personeel van die skool tydens daardie week. Hulle verkondig die evangelie op die kinders se vlak en help die kinders ook om hulle potensiaal, waardes en identiteit in die Here te ontdek,” het Celeste gesê.










