Seerowers, skatte en kosbare herinneringe by Rappies
Tydens 'n talentvolle opeaand het Laerskool Rapportryer hul skatte met die gemeenskap gedeel.
Laerskool Rapportryer se talent was onlangs ten toon gestel tydens ’n opeaand waar veral die koorkuikens en pompom-groep die kollig gesteel het.
• Lees ook: Zoem, Zoem! Rappies vier Byedag
Volgens skoolwoordvoerder Celeste Wentzel was die tema van die aand: Waar jou hart is, daar sal jou skat ook wees.
Sy het verder vertel dat die aand ’n ware avontuur van opwinding en pret was, en dat dit geselligheid in oorvloed gebring het.

Ouers en gaste is by aankoms verwelkom met kleurvolle skatkaarte, en elke stasie het ’n skatkis vol verrassings onthul. Daar was lewendige dansoptredes en kreatiewe kunsuitstallings. Een van die gewildste aktiwiteite was die bak-en-brou-stasie, waar verskeie leerders hul talente met trots uitgestal het.
Uitspattige seerowers het die skare vermaak en saam met die leerders feesgevier. Verskeie pryse is gedurende die aand gewen. Die aand is afgesluit met ’n busrit en warm pannekoek – ’n perfekte einde aan ’n onvergeetlike ervaring.
Laerskool Rapportryer het weereens gewys dat dit nie net ’n plek van leer is nie, maar ’n gemeenskap waar elke kind, ouer en opvoeder deel is van iets kosbaars,” het Celeste afgesluit.





