‘n Braai bring die manne van Kardia bymekaar
Die manne van Kardia House het onlangs 'n heerlike tyd om die vuur geniet tydens hul Mannedag geleentheid.

Ter ere van die belangrike rol wat vaders in die gemeenskap speel, het Kardia House International ’n spesiale Mannedag aangebied.
• Also read: From classroom to cardio for Kardia learners
Volgens onderhoof Joy Kruger was die oggend gevul met geloof, broederskap en heerlike kuier om die vuur.
Die dag het afgeskop met ’n kragtige en opbouende erediens onder leiding van ’n pastoor. Vaders, mans en seuns van die skoolgemeenskap het saamgekom om die Here te loof en te prys, en om mekaar as geloofsmanne te bemoedig.
Joy het vertel dat die diens nie net geloof versterk het nie, maar ook ’n gevoel van dankbaarheid onder die manne geskep het.
Na die diens het almal na buite beweeg, waar die vure reeds geknetter het. Heerlike pap en smoor is voorberei.

“Die manne het saam gekuier, herinneringe gedeel en die waarde van gemeenskap, vriendskap en gesinsbande gevier. Oud en jonk het dit opreg geniet, en dit was duidelik dat hierdie oggend baie meer was as net ’n samekoms.
Dit was ’n spesiale tyd van verbinding en waardering tussen vaders en hul kinders. Die Mannedag by Kardia House International was ’n besonderse sukses en sal beslis as een van die jaarlikse hoogtepunte onthou word,” het Joy afgesluit.



