Rappie-jeug praat oor die belangrikheid van Jeugdag
'n Paar leerders van Laerskool Rapportryer praat oor die jeug van 1976 en hul stryd tydens die Soweto-optog.
Laerskool Rapportryer se leerders het hul menings gedeel oor waarom Jeugdag (16 Junie) ‘n belangrike vakansiedag is.
• Lees ook: Seerowers, skatte en kosbare herinneringe by Rappies
Duhann Jankowitz het gesê hul vier Jeugdag om hulde te bring aan die jong, dapper jeug van 1976 wat teen onreg en ongelykheid geveg het.
“Skole en gemeenskappe hou geleenthede, opvoedkundige praatjies, optogte en kulturele vertonings om die dag te herdenk en jong mense aan te moedig.

“Jeug is belangrik in die geskiedenis omdat dit wys watter rol jongmense in die stryd teen apartheid gespeel het. Dit help ons onthou hoe swaar die prys van vryheid was wat hulle moes betaal.
Dit inspireer vandag se jeug om meer betrokke te wees in hul gemeenskappe en te werk vir ’n regverdige en gelyke samelewing.”
Jenna van Staden het haar gevoelens oor die dag só verwoord:
“Op 16 Junie het die jeug opgestaan teen onregverdigheid. Elke jaar word ons daaraan herinner dat die jeug nie onderskat moet word nie. Die jeug van Suid-Afrika gaan in die toekoms groot dinge bereik. Hierdie jaar dink ons aan jong mense wat swaarkry. Om hierdie dag te vier is belangrik. Ons gaan ’n verskil maak – hou ons dop!”

Zelni Venter het gesê dié hartseer dag in die geskiedenis was voor 1994 bekend as Sowetodag. Ná 1994 het dit egter ‘n nuwe naam gekry: Jeugdag.
“Vandag kyk ons verby die seer en is ons bevoorreg om aan ’n mooi toekoms vir ons land en mense te werk.
Ons, die jeug, is die toekomstige presidente en regering van ons land. Saam kan ons ’n mooi toekoms bou.”

Heinrich van der Walt het vertel dat Jeugdag vir hom meer is as net ’n vakansiedag.
“Dit is ’n oomblik om krag aan jong stemme te gee. Ons vier Jeugdag deur tyd saam met ons familie en vriende te spandeer. Ek hou daarvan om te braai of op uitstappies te gaan.”

Mieke Fouché was opgewonde om te vertel wat Jeugdag vir haar beteken.
Vir my gesin is Jeugdag die dag waarop jong Suid-Afrikaners opgestaan het vir hul regte en vir regverdige behandeling.
“Ons braai gewoonlik op dié dag en nooi familie en vriende saam.”




