Leerder stap ekstra myl vir Rappies-maats in nood
Rappie-leerder, Karien Lubbe, se projek bring lig vir maats in donker tye.
Laerskool Rapportryer se Karien Lubbe maak die skool opreg trots met haar fondsinsamelingsvaardighede, nadat sy reeds R60 000 ingesamel het.
• Lees ook: Agtjarige maak haar liefdadigheidsmerk in die gemeenskap
Volgens skoolwoordvoerder, Celeste Wentzel, help Karien haar mede-Rappiemaats om warm te bly gedurende hierdie winterseisoen deur fondse in te samel.
Om van jouself, jou tyd, jou geld en jou sweet vir jou medemens te gee, word as ’n heldedaad beskou,” het Celeste gesê.
Karien besoek gereeld groot maatskappye om donasies in te samel. Hierdie donasies sal gebruik word om skoene en baadjies vir minderbevoorregte leerders aan te koop. Tot dusver het Karien al R60 000 ingesamel.
“Om voor direkteure van maatskappye te staan en donasies te vra, sal meeste volwassenes laat sweet van spanning, maar Karien doen dit met gemak. Karien, Rappies is baie trots op jou en op die heldedaad wat jy verrig! Ons is dankbaar vir die moeite wat jy doen om te verseker dat jou mede-Rappiemaats warm bly hierdie winter,” het Celeste afgesluit.



