Agtjarige maak haar liefdadigheidsmerk in die gemeenskap
Reeds op agt jaar oud maak Zuney Bietjie 'n reuse verskil in die lewens van ander met haar liefdadigheidswerk.
Zuney Bietjie, ’n agtjarige finalis van Iconic Pageants 2025/ 26, het onlangs haar deel gedoen om die gemeenskap ’n beter plek te maak deur uit te reik na No More Tears Animal Rescue.
• Lees ook: Meet Ru-Juani: The 8-year-old with a big charity vision
Volgens Clarisse Kruger, ’n vrywilliger by No More Tears, het Zuney op 1 Junie hondekos en komberse by die organisasie se hondehokke in Tarlton afgelaai.
Zuney se ma, Claudell du Plooy, het vertel, “Sy is ’n spontane kind, vol lewe, met ’n groot liefde vir diere en kinders. Sy hou daarvan om goed te doen vir mense en is altyd behulpsaam. Haar liefde vir liefdadigheidsorganisasies het ontstaan nadat sy verlede jaar aan ’n modelkompetisie deelgeneem het – saam met ’n vriendin se dogter – en dis toe dat die modelgogga haar gebyt het.”

Zuney is tans ’n leerder aan Laerskool Randfontein. Volgens Claudell presteer sy uitstekend in akademie, sport én kultuur, en beoog sy om eendag ’n onderwyseres te word.
Op 31 Mei het hulle ’n Audi-karskou en fondsinsameling gereël, waar mense donasies saamgebring het vir No More Tears.
“Ons het ’n hond by No More Tears aangeneem, en toe besluit sy [Zuney] om die organisasie een van haar liefdadigheidsprojekte te maak – alles te danke aan haar groot liefde vir diere,” het Claudell verduidelik.
Hoewel dit haar eerste projek van dié aard is, is dit beslis nie haar laaste nie. Sy beplan reeds ’n fondsinsameling vir Vrouedag, waartydens sy higiëneprodukte vir meisies en seuns wil insamel wat dit nie self kan bekostig nie. Daarbenewens reël hulle ook ’n Kerspartytjie in Desember vir minderbevoorregte kinders. Intussen gaan sy aan met kosinsameling vir No More Tears.
“Ons is baie dankbaar en bevoorreg om donasies van enige aard te ontvang. Ons het verskeie diere in ons sorg wat elke maand noodsaaklikhede soos kos, komberse en soms mediese sorg benodig. Met hierdie skenkings kan ons vir hulle sorg en verseker dat hulle die beste moontlike lewe het – totdat hulle hul ewige tuistes vind,” het Clarisse gesê.

Sy het bygevoeg dat hulle altyd hondekos, katkos en komberse nodig het, en dat hulle ook enige ander skenkings waardeer van goedere wat mense nie meer gebruik nie.
“No More Tears Animal Rescue wil opreg dankie sê aan Zuney en haar ouers vir die wonderlike inisiatief wat hulle geneem het met die fondsinsameling, en dat hulle ons as die begunstigde organisasie gekies het.
Sonder mense soos hulle sou ons nie kon doen wat ons doen nie. Dit gee ons die motivering om aan te hou en nooit op te gee nie,” het Clarisse afgesluit.



