RAM hokkie maak hul merk by Gauteng-Wes Kampioenskappe
Laerskool Randfontein se o.11-hokkiespan het ’n indrukwekkende indruk gemaak tydens die Gauteng-Wes Kampioenskappe, al het hul die finaal met 2–0 verloor.
Laerskool Randfontein se o.11-hokkiespan is as naaswenners gekroon tydens die Gauteng-Wes Kampioenskappe.
Volgens skoolwoordvoerder Annie Nolan het die span op indrukwekkende wyse die eindstryd gehaal, maar ongelukkig 2–0 teen Laerskool Krugersdorp-Noord vasgeval.
“In ’n moeisame en mededingende eindstryd het die meisies alles gegee. Ten spyte van die nederlaag was hul poging, sportmangees en groei deur die seisoen iets om op trots te wees. Hulle het die hele gemeenskap se harte gewen,” het Annie gesê.
In die uitkloprondtes het hulle eers Monument Primary School 2–0 geklop en daarna Laerskool Muldersdrif 5–3 in die halfeindstryd verslaan.
“Die hokkiedogters het algeheel ’n fantastiese seisoen gehad en deurgaans uitstekende spanwerk, deursettingsvermoë en vaardigheid getoon,” het Annie afgesluit.



