Van Gauteng na die wêreld-danstoneel vir Riebeeckrand
Die HRD-Crew het geskiedenis gemaak by die onlangse Dance Star SA-kwalifiserende rondte en sal volgende jaar internasionaal teen professionele dansskole meeding.
Hoërskool Riebeeckrand se HRD-Crew is die enigste skoolgroep wat aan die Dance Star SA-kwalifiserende rondte deelgeneem het, en het hulle plek verwerf om Suid-Afrika by die Dance Star World Dance Masters 2026 te verteenwoordig.
Tydens die kwalifiserende rondte het die groep teen professionele dansskole meegeding en ’n merkwaardige eerste plek behaal. Volgens skoolwoordvoerder, Diana Nel, is dit ’n mylpaal wat nog deur geen ander hoërskool in Gauteng bereik is nie.
Na hierdie uitstaande prestasie sal die groep na Kroasië reis om internasionaal deel te neem. Diana het ook gelukwense uitgespreek aan die organiseerder, Bianca Holton, die choreograaf, Larisha van Wyk, en al die leerders van die HRD-Crew.
Indien enigiemand belangstel om die span se internasionale reis te borg, kan hulle ’n e-pos stuur na skakelbeampte@riebeeckrand.co.za.



