Nuwe graadeentjies maak hul debuut by Rapportryer
Die nuwe graadeentjies van Laerskool Rapportryer is gereed om nuwe maatjies te ontmoet en hul eerste sommetjies aan te pak.
Nuwe graadeentjies het vandag hul eerste tree in die grootskoolwêreld by Laerskool Rapportryer gegee.
“Ek is vreeslik opgewonde as sy ouma. Dit is die eerste kleinkind wat skool toe gaan. Ek glo hy gaan sterk vorentoe om sukses te bereik,” het Shirley van Zweel gesê.

“Dit voel lekker, want al die kinders gaan nou weer hok toe. Nou kan ek al die koekies en lekkers alleen opeet,” het Tarsha Davis tong-in-die-kies gesê.
Faith Mathe se pa, Thulani, het gesê: “Dit is ongelooflik. Sy was net nou die dag nog klein, en sy het so vinnig gegroei. Ek is baie opgewonde.”

Graad een-leerder *Avané Muller het gesê sy sien baie uit daarna om haar juffrou te ontmoet en saam met haar maatjies te speel.

“Dit gaan ’n lekker jaar wees saam met nuwe maatjies. Ek sien veral uit na Wiskunde, want ek is goed daarmee,” het Rubein van der Walt gesê.

“Sy doen graad een oor, so dit voel effens hartseer. Maar die liefde is beslis daar, en ek weet sy sal groot dinge hierdie jaar bereik,” het Wilmien Potgieter gesê.

*Hierdie artikel is ná publikasie aangepas. Dit het voorheen aangedui dat ’n Graad 1-leerder wat trots langs haar oupa, Thomas, staan, as Charné Muller geïdentifiseer is. Die Herald is egter sedertdien deur die leerder se ma genader, wat bevestig het dat haar naam wel Avané is. Die Herald vra om verskoning vir enige verwarring wat veroorsaak is — Red.



