Kan u bewys wanneer die rekeninge agterstallig geraak het?
'Verduidelik asseblief aan ons inwoners van Randfontein waar u aan u inligting kom.'

Aan die munisipale bestuurder van die Rand West City Local Municipality.
Geagte T C Ndlovu, aangaande skrywe dateer 22 September 2016 ten opsigte van dubbelrekening November 2016, wat saam met rekeninge uitgestuur is.
In u skrywe word daar beweer dat die water- en elektrisiteitrekening van Randfontein-bewoners vir ‘n paar jaar agterstallig is.
Kan u bewys wanneer die rekeninge agterstallig geraak het, per datum en bedrag? Dit is ‘n belaglike stelling.
Ek woon vir meer as 20 jaar by my huidige adres. Voor ek ingetrek het, het ek ‘n voorafbetaalde meter (prepaid meter) laat installeer. Hoe kan my rekening nou agterstallig wees?
Verduidelik verder ook aan die Randfontein-bewoners ten opsigte van die deposito wat hulle aan Randfontein Munisipaliteit betaal het. My huidige deposito beloop R1 671,60.
Daar kan aanvaar word dat die deposito’s van Randfontein-bewoners miljoene rande beloop. Hoeveel rente loop die deposito’s per maand/ jaar en wat word met die geld gedoen? Die rente moet by ons deposito’s op ons rekeninge bygevoeg word.
Verduidelik asseblief aan ons inwoners van Randfontein waar u aan u inligting kom.
Hoor graag van u.
Die uwe.



