• Ansie Fourie skryf:
Graag wil ek as werknemer van Palm Eiendomme vir mnr en mev Le Grange opreg bedank dat hulle besluit het om die besigheid ter herdenking van Christus se Hemelvaart, te sluit vir die dag.
Ons het vir jare die voorreg gehad om dit as vakansiedag met ‘n diens by ‘n kerk te vier. Nadat dit van ons weggeneem is, het kerke steeds Hemelvaartdienste gehou, maar in die aand. Almal kan nie aanddienste bywoon nie en daarom is ek dankbaar vir mnr Le Grange en dan pastore/ leiers soos Desmond van Huis van Wonderwerke wat wel ‘n oggenddiens op Hemelvaart het.
Op Hemelvaartsdag (Latyn: Ascensionis Domini) vier Christene dat Christus ná die kruisiging en opstanding na die hemel opgevaar het. Hemelvaartsdag val op die 40ste dag gereken vanaf eerste Paasdag, wat veroorsaak dat die datum elke jaar anders is. Hemelvaartsdag val wél altyd op ‘n Donderdag. Hemelvaartsdag val tien dae vóór Pinkster.
In baie lande is Hemelvaartsdag ‘n vakansiedag in die middel van die week. Baie Christene sal ook ‘n kerkdiens bywoon op hierdie dag. In ander lande gaan mense kerk toe op die Sondag ná Hemelvaart.
In Suid-Afrika was dit ook ‘n godsdienstige vakansiedag, maar dit is net soos baie ander goeie dinge in SA afgeskaf.
Hemelvaart is bevestiging van Jesus se koningskap. Hy is Heerser oor alles en almal. Nadat Hy as Verlosser aan die kruis gesterf en weer uit die dood opgestaan het, ontvang Hy hierdie eer. Hy is die Leeu en die Lam van wie Johannes in Openbaring 5 skryf. Net Hy kan die plan van God vir die wêreld reg laat verloop. Hy heers oor die kerk en die ganse heelal. Baie dankie vir die geleentheid om dit weer te kan vier.



